Wanneer vryheid deur jou vingers glip

Foto: iStockphoto.com

Anja Steyn

Almal is bewus van die oorsake en gevolge van die koronavirus; dit word wyd en suid verkondig. “Bly tuis; red lewens” is die slagspreuk wat telkens deur elke politikus geproklameer word. Die koronavirus is ’n probleem, ja, maar die manier waarop die staat tans ons lewens beheer, is egter kommerwekkend.

Kom ek stel dit so: Ek aanvaar dat die inperking grondwetlik is en ek besef dat die koronavirus ’n bedreiging inhou, maar die feit dat die regering so gou beheer oor ons lewens kon oorneem, laat my koud. Laat ons nie vergeet dat die weermag ontplooi is om orde te handhaaf nie en laat ons ook nie vergeet dat miljoene Suid-Afrikaners verbied is om terug te keer werk toe nie. Binne ’n kwessie van ’n paar weke het ons ons vryheid prysgegee. Was dit die moeite werd?

Ons moet lewens red, ja, maar die inperking gaan meer lewens eis as wat dit gaan red. Sekere hospitaaloperasies word uitgestel omdat dit “nienoodsaaklik” is, mense sterf van hongersnood omdat hulle nie basiese voedsel kan bekostig nie en duisende sakeondernemings sluit hul deure – dít alles omdat ons verbied word om ons normale lewens te lei.

Suid-Afrikaners sit voor hul televisieskerms vasgenael wanneer pres. Cyril Ramaphosa ’n toespraak lewer oor die stand van die inperking; ons hoop vir ’n brokkie goeie nuus. Ons juig wanneer ons uitvind dat ons elke dag drie ure kry om te oefen en ons sien uit na die dag dat ons weer die haarkapper kan besoek. Ons het eenvoudig aanvaar dat ons altyd maskers moet dra wanneer ons die huis verlaat. Is ons dan so broos? Hoe het ons toegelaat dat ons vryheid so vinnig deur ons vingers glip? Ek weet, ons het nie veel van ’n keuse gehad nie – dit is juis my punt.

Ons moet ’n keuse hê. Of die koronavirus ’n ernstige bedreiging is of nie; niks is so belangrik soos ons vryheid nie. Die virus is nie ’n genoegsame rede om aan die regering se mag oor te gee nie. Hiermee sê ek nie dat jy moet ophou om jou masker te dra of sosiale afstand toe te pas nie; inteendeel, ek moedig jou aan om veilig te bly. Ek is eenvoudig van mening dat dié besluit nie by die regering behoort te lê of deur die regering afgedwing behoort te word nie.

Die bekende ekonoom, Milton Friedman, stel dit so: “Een van die grootste foute is om beleide en programme volgens hul bedoelings te beoordeel eerder as deur hul uitslae.” Hoewel Suid-Afrika se inperkingsbeleid opgestel is met die doel om lewens te red, het dit inteendeel meer lewens geëis – nog meer – dit het ons vryheid gekos.

Hoofgrafika: Christiaan Brand

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *