Waardeer die klein dinge

Cara Kotze

Elke uitruilstudent tree ‘n land binne met ‘n vooropgestelde idee van hulle uitruil. Vir die meeste uitruilstudente verdwyn hierdie idee die oomblik wat hulle besef dat die gemak van jou eie land, taal en mense ver weg is.

 

Vir die weke wat volg word vreemde mense jou familie, hulle huis word jou huis en hulle roetine word joune. Jou lewe word bepaal van hulle voorkeure, gewoontes, stokperdjies en geleenthede.

 

Vir enige uitruilstudent is die grootste uitdaging die taalversperring. Micaela Staal (gr. 10) was van September tot Desember 2019 in Netan, Argentinië. Sy sê dat sy maklik ‘n goeie verhouding met haar gasfamilie gebou het, maar dat die onbekendheid van Spaans dit moeilik gemaak het om werklik ‘n verhouding te vestig. “My grootste uitdaging was om te kommunikeer en om die mense saam met wie ek my dae deurgebring het te leer ken in ‘n taal wat ek nie eintlik kan praat nie.” Sy vertel verder dat nog ‘n uitdaging die kos was. “Hulle eet ongelooflik lekker, maar baie ongesond! Dit is iets wat ek nie regtig ken nie, maar by my familie het ek gou gewoond geraak daaraan.”

 

Monique van Jaarsveld (gr. 11) sê dat sy baat gevind het by haar uitruiltyd in Duitsland oor Desember 2019: “Om alleen in ‘n vreemde land te wees en ‘n vreemde taal te probeer aanleer is uitdagend, maar na ‘n ruk raak mens dit gewoond.” Na die uitruil praat sy Duits met selfvertroue en sy het ‘n fantastiese verhouding met haar gasfamilie.

 

Mika van Zyl (gr. 11) se uitruil na Cordoba, Argentinië,was ‘n tyd van blootstelling, maar waar sy waardering gekry het vir dít wat mens dikwels vanselfsprekend neem. “Die blootstelling aan ander kulture het my laat besef dat jy dankbaar vir die klein dinge moet wees, soos om vir jou ouers nag te sê in die aand.” Alhoewel hulle ‘n eenvoudige lewe leef, stem beide Micaela en Mika saam dat die Argentyne uitgelate en gelukkige mense is. “Hulle is glad nie materialisties nie en ek dink dit is die grootste verskil tussen ons leefstyl en hulle s’n. Tog geniet hulle die lewe meer as ons, want hier is alles so gejaagd. Die prioriteite verskil en ek dink dit is waar die geluk lê,” sê Micaela. “Hulle maak altyd tyd vir familie en vriende, terwyl ons dit nie altyd eerste op ons prioriteitslys plaas nie.”

 

Soos die Helpies waardering vir hul eie land en leefstyl kry, word hulle die geleentheid gegun om vir buitelandse studente te wys hoe hulle leef. Tim Springer, ‘n Duitse uitruilstudent wat in Februarie 2020 by Helpmekaar Kollege skoolgegaan het, sê dat skool in Suid-Afrika ‘n ongelooflike ondervinding is. “Die verskille tussen skool in Suid-Afrika en skool soos ek dit ken, is so interessant en verseker ‘n verrykende ondervinding.”

 

Louba Moncomble, ‘n Franse uitruilstudent, sê dat haar tyd in Suid-Afrika verrykend was: “My leefstyl in Amiens, ‘n klein plattelandse dorpie, verskil grootliks van die besige lewe van ‘n Johannesburger, maar om ‘n lewe anders as jou eie te ervaar, maak jou oë oop vir al die dinge in jou eie lewe wat so maklik misgekyk word.” Sy las by dat die vermenging van kulture en tale in Suid-Afrika dié land bo ander laat uitstaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *