VIR DIE WAT OORSEE WIL STUDEER

Die meeste leerders se kele trek effens toe wanneer hulle die woord “universiteit” hoor. Sommige kinders droom selfs daaroor om oorsee te studeer, maar dit kan nogal ‘n moeilike proses wees om aansoek te doen, veral as jy nie al die inligting het nie. Gelukkig berei Helpmekaar almal voor om in enige plek in die wệreld te studeer.

Daar is wel ‘n paar aspekte wat jou aansoekproses ‘n bietjie makliker kan maak, om in ag te neem wanneer jy by ‘n buitelandse universiteit wil aansoek doen.

Dit is baie belangrik om te weet wat die vereistes vir aansoeke by die spesifieke universiteit is. Volgens masterportal.com sal die meeste universiteite in die Verenigde Koninkryk net jou aansoekvorm aanvaar as jy dit elektronies deur die UCAS-sisteem instuur.

In baie universiteite, veral in die Europese lande, is Engels nie noodwendig ‘n voertaal nie. Jy moet seker maak of jou spesifieke kursus in Engels aangebied word en of handboeke sowel as toetse in Engels beskikbaar is. As jy ‘n addisionele taal, soos Spaans of Duits magtig is, kan jy dit ook oorweeg om die toelatingseksamens vir hierdie lande se universteite te skryf en in die addisionele taal verder te studeer.

Volgens Ryan Hinchey, op timeshighereducation.com, moet studente bewus wees van die verskillende vereistes van hulle kursus. Om net aan die minimum vereistes te voldoen, sal nie noodwendig vir jou ‘n plek by die universiteit van jou keuse verseker nie. Daar word ook na meer as net jou akademiese prestasies gekyk, veral wanneer jy aansoek doen vir ‘n beurs. Om ‘n gebalanseerde skoolloopbaan te handhaaf, kan vir jou voordelig wees. In die VSA is van die kwaliteite waarna hulle soek byvoorbeeld hoe goed die persoon in ‘n groep kan werk en hoe passievol hy of sy oor hulle vakke is.

Dis alles goed en wel om oorsee te wil studeer, maar baie droom om in plekke aansoek te doen waarheen hulle nog nooit was nie. Die wệreld is anders as net ‘n pragtige prentjie van Europa of die moderne stede van die VSA. Om werklik die gevoel te kry van waar jy jou drome wil bereik, is dit nodig om die land voor die tyd te besoek. Natuurlik kos dit baie geld en met Suid-Afrika se negatiewe wisselkoers gaan oorsese studies baie duur wees. Dink net aan die koste om daarheen en terug te reis, aansoek te doen vir ‘n visa, om handboeke en studiemateriaal aan te koop en om verblyf te betaal. Op educonnect.co.za sê Hannah Maidmont dat internasionale studente internasionale studente-belasting moet betaal wat somtyds baie meer is as wat plaaslike studente betaal. Daar is wel universiteite in Duitsland en Switserland waar studente verniet kan studeer, maar andersins bly dit ‘n duur storie. Maak dus voor die tyd seker hoe jou begroting moet lyk en hoe jy jou studies gaan finansier of subsidieer.

Volgens mnr. Marnus Grobler, Helpie-onderwyser en graadvoog, is dit ‘n baie persoonlike besluit om oorsee te studeer en hang dit af van elkeen se eie bewegingsrede. Daar is wel sekere spesialis-instellings in ander lande waarby aspirant spesialiste wil studeer, indien dit hulle veld is. Ons sit egter met baie goeie plaaslike instellings wat wêreldleiers is in sekere van die studierigtings wat hulle aanbied. Mnr. Grobler is van die opinie dat die top 3 universiteite oorsee MIT (Massachusetts Institution of Terchnology) – VSA, Stanford – VSA en Harvard – VSA is. Volgens hom is die top 3 plaaslike universiteite UCT, Stellenbosch en Tukkies.

Om in die buiteland te studeer, is nie heeltemal vergesog nie, maar dit verg baie navorsing en die skryf van ‘n ekstra toets of twee. Dit is ‘n uitstekende manier om die wêreld te leer ken, nuwe mense te ontmoet, jouself aan nuwe kulture bloot te stel en om geleenthede aan te gryp.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *