Valentyne wys híerdie jaar hul liefde vir die gemeenskap

Nina Germishuysen

As gevolg van onsekere tye en groot behoefte in Helpmekaar Kollege se nabye omgewing, het hierdie jaar se Valentynsweek ietwat anders gelyk as die gewone “ek-het-‘n-ogie-op-jou”- kaartjies en geskenke. In plaas van rose en sjokolade, het Helpies met arms vol pakkies opgedaag by die skool.

Helpies kon hulle ondersteuning aan die onderskeie instansies toon, deur elke dag van die week is ‘n bykomstigheid met ‘n spesifieke kleur te dra. Skooluniforms is opgehelder met kleurvolle dasse, linte, kouse, armbande en hoede. Gesinne het met groot harte en oop hande gegee. Me Nicolene Pienaar en haar span het hard gewerk om al die donasies uit te sorteer en te verpak. Sakke vol skryfbehoeftes, toiletware en lekkernye is opgemaak, vervoer en uitgedeel aan 64 kinders by die Johannesburg Kinderhuis en 300 inwoners van die Parksorg-ouetehuis. Altesaam 2183 mediese personeel en pasiënte van die Helen Joseph-hospitaal het elkeen ‘n heerlike, vars muffin ontvang en ‘n geskenkpakkie om hul dag op te helder.

Graad 11-leerders by die bederfpakkies in die ontvangsarea van die Parksorg ouetehuis. (Foto verskaf).

Me Gabrielle Forssman, wat deel van die span was, meen dat dit vir haar ‘n ongelooflike ervaring was. “Toe ons kontak gemaak het met die fasililiteite naby ons, het ons nie gedink dat ons so oorweldig gaan word deur die goedhartigheid van Helpie-gesinne nie. Die uitkoms was ongelooflik. Dit maak mens trots om ‘n Helpie-onnie te wees.”

Die Valentynsweek is ook gevul met baie pret en daar was genoeg geleentheid vir romantiese siele wat wel ‘n ogie op iemand het, om hulle geskenke te oorhandig. ‘n Hoogtepunt van die week was die optrede van die Golden Boys wat die hele skool op hul voete gehad het.

Helpies dra geel bykomstighede tydens valentynsweek. Foto: Annika de Beer

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *