Uit die skrywer se mond

Aldoné Kok

 

 

Deon Meyer is nie net ‘n groot naam vir Suid-Afrikaanse letterkunde nie, maar het ook naam gemaak in die buiteland. Sy boeke is in 27 tale vertaal en sy TV-program, Trackers, het ‘n hele paar Hollywood-reekse ore aangesit. Volgens Crime Time is Meyer die beste misdaadskrywer in Suid-Afrika en volgens The Guardian weerspieël sy boeke die siel van Suid-Afrika, goed en sleg. Tussen sy reisplanne vir die bekendstelling van sy nuwe boek, Donkerdrif, beantwoord hy ‘n paar vrae.

 

  • Waarom het jy begin skryf en wanneer het jy geweet dít is wat jy met jou lewe wil doen?

 

Ek het begin skryf omdat ek vir mense dieselfde genot wou gee wat ek uit ander skrywers se lekkerlees-boeke gekry het.

 

Toe ek ernstig begin skryf het, was dit maar ’n stokperdjie. Ek het nooit gedink ek sou ’n lewe en ’n loopbaan daaruit kon maak nie. Dit was eers toe my boeke in die buiteland in vertaalde vorm begin sukses behaal het, dat ek geweet het dit is wat ek met my lewe wil doen.

 

  • Wie of wat inspireer jou verhale?

As dit by skryf kom, glo ek nie in inspirasie nie, ek glo in perspirasie.

 

Inspirasie is iets waarvoor jy wag tot dit na jou toe kom.  Jy het nie beheer daaroor nie. ‘Perspirasie’ beteken jy moet stories gaan soek, jy moet lees en vra en luister, navorsing doen, lééf en werk om ’n boek te ontwikkel.

 

  • Is jy ń boekwurm? Indien wel, wie is jou gunsteling-skrywer?

 

Ek is ‘n boekwurm en wens ek het meer tyd vir lees gehad. Ek het nie ‘n enkele gunsteling-skrywer nie, maar sommer ‘n hele lang lys van mense wie se boeke ek geniet, fiksie en nie-fiksie. Hier is net enkeles, daar is nog baie meer:  J.M. Coetzee, William Gibson, Michael Connelly, Robert Harris, Ian Rankin, Lee Child, Ken Follet, Michael Ridpath, John Sandford, George P. Pelecanos, Douglas Kennedy, Mark Bowden, Anthony Beevor, John D. MacDonald, Ed McBain, John le Carré, Frederick Forsyth, Ted Allbeury, Robert B. Parker, Stephen Pinker …

 

  • Watter raad kan jy bied vir jong aspirante skrywers?

 

Lees, lees, lees. Daar is geen beter leerskool vir skryf as lees nie. Lees baie, lees die bestes, besluit waarvan jy baie hou. En dan moet jy gaan sit en skryf, elke dag, dag na dag.

 

  • Pla dit jou as tieners in tiener-taal skryf of praat?

 

Glad nie! Taal is ’n lewendige, organiese ding wat groei en verander, en baie van dié groei vind onder tieners plaas. Tieners wat wil skryf, sal wel mettertyd ’n passie vir taal ontwikkel en dit beter leer ken.

 

  • Is daar nog boeke waarna jong mense kan uitsien?

 

Ek beplan nie om spesifiek vir jongmense te skryf nie, maar wil darem glo dat die meeste van my werk geskik is vir sestienjariges en ouer. Daar verskyn in November ’n nuwe Bennie Griessel-boek met die naam Donkerdrif.

 

  • As jy een karakter van een van jou boeke kon wees, wie sou jy wees en hoekom?

 

‘n Foto van Deon Meyer

Dalk Domingo in Koors, omdat hy so ’n vreeslose man van aksie is, wat min of meer enigiets kan hanteer.

 

  • Sou jy enige ander beroep eerder wou volg, indien wel, watter beroep?

 

Nee, dit is vir my heerlik om heeltyds te kan skryf, maar as ek dit nie kon doen nie, sou ek graag ’n sjef wou wees.

 

  • Jy het onder andere die Grand Prix de Littérature Policière-International Category gewen, kan jy nog die nostalgie van die oomblik onthou?

 

Ek kan! Dit was my eerste literêre prys en dit was ’n totale en groot verassing, veral omdat dit deur die Franse toegeken is, ’n land met ’n wonderlike literêre tradisie. Ek was stom-verbaas.

 

  • Watter boek was die lekkerste om te skryf?

 

Koors. Dit is moeilik om te verduidelik waarom. Ek vermoed dat was die vryheid wat die boek my gebied het om op ’n groter, wyer doek te kan skilder – en ek nie gebonde gevoel het deur die konvensies wat misdaadfiksie dikwels ’n skrywer oplê nie.

 

 

  • Wat is ‘n interessante feit van jouself wat niemand van weet nie?

 

Ek haat dit om skoene te moet dra. As ek kan kaalvoet wees, is ek baie gelukkig.

2 thoughts on “Uit die skrywer se mond

  • March 12, 2021 at 5:42 am
    Permalink

    Puik onderhoud deur ‘n passievol leerder👏 Baie geluk Aldoné, jy maak ons trots🌟

    Reply
  • March 12, 2021 at 12:03 pm
    Permalink

    Puik artikel Aldoné. Jy maak ons trots…soveel talent! Knapgedaan🌠

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *