Tuis-fiks vir die Afrika-spele

Megan Saaiman

 

Gené Coetzee besig met haar vroegogend-oefensessie.

In hierdie onsekere tye is baie van die Helpies se vakansieplanne vernietig, sportspelers se toere gekanselleer en kultuurkinders se kompetisies afgestel. Dit raak elke persoon op ‘n verskillende manier en om postitief te bly, is somtyds moeilik, maar Helpies word nie moeg nie en Helpies gee nie op nie. Gené Coetzee is een van hierdie mense wie se lewe omvergegooi is as gevolg van die Coronavirus. Gené oefen al baie lank om reg te wees vir dié jaar se Afrika-Spele wat in April 2020 in Togo, Wes-Afrika, sou plaasvind. Gedurende hierdie tyd is sy positief en bly sy fiks.

  1. Wat doen jy om fiks te bly tydens die inperking?

Die inperking het my geleer dat ek enige iets kan doen, solank ek glo ek kan. Dit is moeilik om sonder al die regte toerusting fiks te bly, maar gelukkig het ek ‘n “treadmill” waarop ek elke dag hardloop. Ek doen ook maagspieroefeninge, asook oefeninge om my bene sterk te hou. Partykeer spring ek tou en doen “aqua- jog”-oefeninge in die swembad. Aque-jog is basies wanneer ek ‘n dryfbelt om my middellyf dra en dan “hardloop” ek in die water. Dit bied baie goeie weerstand vir oefening..

  1. Is dit moeilik om vasberade te bly as jy by die huis oefen?

Roetine is vir my belangrik, selfs gedurende die inperkingstyd. Ek hou streng by my oefenprogram en oefen saam met my oefengroep. Ons het ‘n maagspier-uitdaging waar elke lid van die oefengroep daagliks oefeninge op ‘n video deur stuur en die groep moet dit dan voltooi. Om nog steeds betrokke te wees by ander mense, dra ook by tot my motivering om elke dag te oefen.

  1. Is daar dae wat jy besluit jy gaan nie of wil nie oefen nie?

Ek dink dit is baie belangrik om rusdae in jou oefenprogram in te werk. Omdat ek rusdae het, is dit makliker om aan te hou en te wíl oefen. Hierdie balans tussen oefen en rus is noodsaaklik vir enige sport.

  1. Die Afrika-spele sou in April plaasgevind het. Is dit afgestel of vind dit steeds plaas?

Gelukkig is die Afrika-spele nog nie offisieel afgestel nie en dit mag dalk in September 2020 plaasvind. As dit in September sou plaasvind, sal dit my nie pla nie, want ek probeer om altyd fiks te bly.

  1. Werk jy self jou oefenroetines uit of word dit ook aanlyn deurgegee?

Toe die inperking aangekondig is, het my afrigter, Riaan Strydom, ‘n vaste oefenprogram vir ons aanlyn deurgegee. Dit maak dit malkiker om fiks te bly en om steeds vordering te maak, soos ek sou in normale omstandighede.

 

  1. Wat is die moeilikste deel van by die huis oefen vir ‘n atleet?

Vir my is dit die moeilikste om op die “treadmill” te oefen. Partykeer kyk ek selfs Netflix terwyl ek daarop oefen. Om deel te wees van ‘n dinamise oefengroep met mense wat mekaar aanspoor, vorm deel van die lekker van atletiek. Ek mis die interaksie en aanmoediging van my oefengroep, wat dit somtyds moeilik maak om ‘n positiewe houding teenoor oefen by die huis te hê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *