Tradisionele skool versus e-leer: Die goed, die sleg en die lekker

Nina Germishuysen

Die onderwerp van inperking tydens die Corona-pandemie is al deurgetrap. Dit wil voorkom asof die impak van die grendeltyd, hetsy dit ekonomies, fisiek of emosioneel is, reeds van alle hoeke en kante af ondersoek, bespreek en ontleed is. Die media is deurtrek met nuus oor Covid-19 en ‘n mens moet behoorlik soek vir leesstof wat nie met die virus te doen het nie.

Vir skoliere onstaan die vraag egter, uit ‘n onderrigoogpunt, hoe die tradisionele manier van skoolgaan met afstandleer vergelyk. Namate die Helpies geleidelik terugkeer skool toe, is daar gemengde gevoelens onder die leerders oor die terugkeer vanaf e-leer na die aangesig-tot-aangesig manier van skoolgaan.

André van Graan (gr. 10) spandeer ure voor sy rekenaar tydens die inperkingstyd.

Helpie-flitse het by wyse van ‘n steekproef onder 200 leerders van verskeie grade ondersoek ingestel. Op die vraag of hulle e-leer of tradisionele skool verkies, het slegs 18% ten gunste van afstandonderrig gestem. Die redes vir hierdie voorkeur sluit onder meer in tydsbesparing, meer fleksietyd en gerieflikheid.

“Daar is beslis voor- en nadele aan albei,” sê Neale Berkenbosch (gr. 12). “Wat lekker was van e-leer, is dat die vakmateriaal baie meer toeganklik was. Verder was daar meer tyd om te leer vir die eksamen en tyd kon meer effektief gebruik word. Dit is ook makliker om te fokus as in ‘n klas.” Neale voel egter dat dit sleg was om heeldag voor die rekenaar te sit tot laat in die aand, met geen afwisseling nie. “Ten minste kan mens tussen klasse en pouses jou maats by die skool sien.”

Moné de Necker (Foto: Verskaf)

Moné de Necker (gr.10) meen die tradisionele manier van skoolhou is meer doeltreffend. “Kinders vra nie regtig meer vrae oor die werk nie en kommunikeer minder tydens aanlyn lesse. Onderwysers kan ook nie agterkom as iemand sukkel nie.” Moné hou egter daarvan dat mens met e-leer kan teruggaan na die lesmateriaal om iets te bevestig.

Me. Katharina Reichert (Foto: Verskaf)

Maar hoe voel die onderwysers oor e-onderrig? Me. Katharina Reichert, wat Duits gee, verkies sonder twyfel skoolgee van aangesig tot aangesig. “Ek mis die kinders geweldig. Om ‘n nuwe taal aan te leer, is fisieke interaksie baie belangrik. Die saamlag en snaakse sê- en doengoed van die kinders is alles deel van die leerproses.” Volgens me. Reichert het sy egter deur e-onderrig baie dinge van die kinders en van haarself ontdek, wat nie onder gewone omstandighede sou gebeur het nie. “‘n Rekenaarskerm gee nie ‘n gevoel van saamwees nie. Ek wil veel eerder tradisioneel skoolhou. Al is dit deur ‘n masker!”

Me. Tania van Deventer (Foto: Verskaf)

Me. Tania van Deventer geniet albei maniere van onderrig. “Die uitdaging is nou om e-leer met klaskamer-gebaseerde leer te integreer. Op díe manier is daar meer tyd om op toepassing in die klaskamer te konsentreer. Leerders kan dan meer verantwoordelik wees vir hul eie insette buite die klaskamer.”

Hoe dit ook al sy, die feit bly staan dat die wêreld wat ons geken het voor die pandemie anders gaan lyk in die toekoms – en onderrig is geen uitsondering nie.

2 thoughts on “Tradisionele skool versus e-leer: Die goed, die sleg en die lekker

  • June 25, 2020 at 5:29 pm
    Permalink

    uitstekend

    Reply
  • June 26, 2020 at 8:53 am
    Permalink

    Pragtige skryfwerk. Talentvolle skrywer.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *