Time-out: ‘n tyd vir stil raak

Helpies bid saam tydens weeklikse bidsessie. Foto deur Cameron Sharp.

Megan Saaiman

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy bring my by waters waar daar vrede is.” Hierdie kern van Psalm 23 beskryf die atmosfeer wat by Helpmekaar se Time-out geskep word.

Time-out is ‘n skoolaktiwiteit wat een keer per week vir die Helpies ‘n geleentheid bied om saam stil te word om Jesus se teenwoordigheid te beleef. Dit word gedurende tweede pouse gehou sodat almal wat wil, dit kan bywoon.

Alhoewel niemand presies seker is hoe Time-out oorspronklik begin het nie, het dit gegroei om ‘n jaarlikse kampgeleentheid, die Getaway-Kamp, in te sluit. Getaway, wat gewoonlik in die Augustus-skoolvakansie plaasvind, is deur me. Lizette Korp en mnr. Marnus Grobler gestig. Me. Carien Wessels, die huidige organiseerder van Time-out, sê: “Die doel van Time-out is om kinders nader aan Jesus te bring en om Hom te aanvaar. Dit moet ‘n veilige omgewing wees waar mense sonder voorgee kan kom en ‘n ontmoeting met Jesus kan hê.” Haar wens is dat almal met gemak Time-out sal kan bywoon en dat almal wat in Helpmekaar is ten minste een keer Time-out sal kom beleef.

Cara Gouws (gr. 12) en Hein Fourie (gr. 12) is  2020 se Time-out-organiseerders.Vir Cara is Time-out ‘n plek om ‘n breuk te vat van die chaos van die lewe en dis waar sy die mees diepgaande ontmoetings met God beleef. Dit herinner haar daaraan dat daar soveel meer aan die lewe is as wat sy raaksien. Haar gunstelling geestlike liedjie by Time-out is “10 000 Reasons”.  Hein voel dat Time-out ‘n plek is waar jy in Christenskap vriende maak en waar jy mense ontmoet wat jy vir die res van jou lewe sal onthou. Dit is ‘n rustige plek waar jy die liefde van die Here voel. Dit is ‘n plek waar hy so nou en dan bietjie motivering kry om te glimlag en om ‘n glimlag op iemand anders se gesig te sit.

Time-out raak elke persoon op ‘n ander manier. As jy nog nooit Time-out by Helpmekaar beleef het nie, maak gerus tyd om hierdie ervaring met jou mede-Helpies te deel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *