Swemspan swem reguit in die A-liga in

Rieghardt van der Merwe (gr.12) loop voor in die 50m-borsslag. Foto deur Cameron Sharp.

Chanell Landman

Die Helpmekaar Kollege-swemspan het op 3 Maart die B-liga Interhoër by die Delville swembad gewen en skuif dus volgende jaar op na die A-liga.

Die swemmers het geweet dat hulle ‘n baie goeie kans het om die eerste plek by die Interhoër te neem na ‘n uitstekende seisoen waar hulle byna al hulle gala’s gewen het met ‘n tweede plek by die gesogte St Peter’s-aandgala en die Goue Liga.

Me. Adelia Murray vertel: “Ek het die telling die heeltyd dopgehou, so ek het geweet ons staan ‘n baie goeie kans. My hoogtepunt was dus om die swemmers dop te hou.” Sy voeg by dat die swemspan nou weet dit kan gedoen word, ongeag waar hulle vandaan kom.

Die span het met 92 punte bo Heronbridge College, een van die span se grootste mededingers, uitgeskiet. 29 van die span se swemmers het eerste en/of tweede plekke behaal en gaan dus deelneem aan die Prestige-gala op 10 Maart.

Swemkaptein, Adriaan Steyn (gr.12), sê dat die oomblik onbeskryflik was. “Ek het al in graad 8 uiteengesit hoe my swemloopbaan by Helpmekaar gaan afspeel en dit was dat ons in my matriekjaar die A-liga sal intree,” sê hy.

Sy mede swemkaptein, Cameron Sharp (gr.12), sê: “Ek was so gelukkig om te hoor dat ons swem-familie so goed kon presteer.” Sy sê dat dié wen ‘n voorsprong is vir die toekoms om verder te presteer en eendag selfs die A-liga te wen.

Helpmekaar Kollege se swemspan moet dopgehou word, want soos swemmer, Adriaan Mostert (gr. 8), sê: “Helpmekaar swem om te wen.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *