Só lyk die man agter Maandae se note

Anika de Beer

Ryan Snyman (gr.10) is ‘n man van vele talente. Hy speel weekliks klavier tydens saalopening en hy is ‘n lid van die Helpie-koor. Anika de Beer gesels met hom oor sy liefde vir musiek.

 

 V: Hoe het jy jou talent vir musiek ontdek?

A: Dit is eintlik ‘n snaakse storie. As ‘n kleuter het my ouers my gedwing om musieklesse te neem. Ek het egter eers my talent vir musiek ontdek toe ek my arm in die laerskool gebreek het. In die typerk kon ek nie meer rugby speel nie en moes derhalwe iets anders vind om myself mee besig te hou. Dit is toe wat ek werklik besef het ek het ‘n passie vir musiek.

 

V: Wat is jou gunsteling musiekgenre om te speel en om na te luister?

A: Ek hou daarvan om beide klassieke musiek en rock musiek te luister. Ek speel meestal klassieke musiek. Ek gee nie om watter genre musiek ‘n persoon speel nie, maar wat wel saak maak, is die feit dat hoe meer jy jouself in musiek belê, hoe meer waardeer jy die kuns van musiek.

 

V: Watter instrumente speel jy en het jy enige ander talente?

A: Ek glo ‘n mens kan enige instrument speel as jy basiese musiekteorie onder die knie het. Dit is dieselfde konsep as atletiek. As jy fiks is, kan jy in enige item deelneem. Ek het al klavier, kitaar, baskitaar en die dromme bemeester en ek het ‘n swartbelt in karate!

 

V: Het jy enige raad vir mense wat eendag voor ‘n gehoor wil optree?

A: As jy doen waarvoor jy lief is, sal jy besef dat ander mense se opinies nie saak maak nie. Wanneer jy op die verhoog is en jouself in die musiek inleef, vergeet jy van alles om jou, so wees net jouself.

 

V: Dit is duidelik dat jy ‘n passie vir musiek het. Die groot vraag is – wil jy verder in musiek studeer?

A: Nee, ek beplan nie om musiek te gaan studeer nie, maar ek sal graag voortgaan om ‘n musikant te wees. Ek kan dan my passie vir musiek met ander mense te deel.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *