Om stil te wees

Simone Shirley.  Geraas is meer as net die klank van wakkerword-alarms douvoordag of die trilling van verbygaande verkeer wat busvensters laat vibreer. Geraas is meer as net die klank van slepende voete vroegoggend op stoepe of onderlangse, klaende stemme in die klasse.

Geraas in my lyf is die onophoudelike stryd tussen my moegheid en my wil om meer en beter te doen.

Geraas in my kop is die voortdurende beraming van toekomsplanne en die vermyding van struikelblokke te midde van ’n mynveld van gedagtes.

Geraas in my mond is die leë woorde wat van my tong afrol sonder opregte bedoeling of intensie.

En laastens, is geraas in my gees al die luide mislukkings van dit wat ek uit eie krag probeer vermag; die oorloë wat ek self probeer veg en wonde wat ek self probeer genees.

Ek kom deesdae agter dat ons samelewing rondom hierdie geraas gebou word. Ons word voortgedryf deur die klank van selfoonkennisgewings, onderwyserstemme en skoolklokke. Die kontrolerende egostem binne ons bepaal ons lewenstyl.

Waar, deur al hierdie geraas heen, kry ’n mens kans om stil te word? Om te luister?

Geraas laat ons glo daar is nie ’n plek of tyd om stil te word nie. Ons struikel voort op paaie sonder om te hoor waarheen Hy ons volgende wil stuur. Ons probeer versamel dit wat ons nodig het, sonder om by Hom te hoor waar ons behoeftes lê.

Is die geraas om ons en in ons nie dalk die oorsaak van die gebrek aan God se stem in ons lewens nie?

2 Samuel 7 skiet my te binne.

Kortliks vertel hierdie hoofstuk in die Bybel die storie van koning Dawid wat die tent waarin mense God aanbid het, wou vervang met ’n parmanente godshuis. Hy wou dit doen uit dankbaarheid vir alles wat God aan hom gegee het. Die profeet Natan het egter ’n boodskap van God ontvang dat dit nie is wat Hy wou hê Dawid moes doen nie. Nadat Natan hierdie boodskap aan Dawid oorgedra het, “het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid” (2Sam7:18).

Hoe pragtig.

Nadat Dawid se planne (wat hy uit eie denke en krag wou uitvoer) deur die Here afgekeur is, het hy eenvoudig gaan sit en stil geword in die Here se teenwoordigheid. Hy het die gedreun van sy onsekerheid en teleurstelling opsygeskuif en wysheid gevind deur plek te maak vir die Here se stem. Eers toe Dawid stil geword het, kon die Here Sy plan en heerlike beloftes aan Dawid verduidelik.

In sy stilte was Dawid nederig deurdat hy sy fout erken het, maar ook vreesloos en getrou aan sy geloof dat die Here beter dinge vir hom in die vooruitsig stel.

Eksodus 14:14 beklemtoon hierdie aspek: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Met ander woorde, wanneer die sleepvoetgesuis van die buitewêreld en die skril skreeustemme van jou innerlike wêreld jou oorweldig, weet net dit: jy hoef doodeenvoudig maar net na Sy arms toe te vlug en stil te wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *