Pottie, geen blompot!

Pottie staan sy plek vol onder by die swembad. Foto geneem deur Cameron Sharp.

Karla Jonker.  Daar is ‘n skouperd wat op Helpmekaar Kollege se gronde staan. ‘n Ryk brokkie geskiedenis wat op 19 September 2017 deel geword het van die Helpie-familie. Ongelukkig word hierdie item deur sommige leerders gesien as ‘n modieuse asdrom – wat egter glad nie sy doel is, of was nie – en deur ander leerders heeltemal onderskat word. Díe objek verdien meer respek as dit! “Pottie”, Helpmekaar Kollege se eie mynbou-artefak.

Voor Pottie deel geword het van die Helpie-ketting, was sy doel om deel uit te maak van die smeltingsproses in die Crown Mines se myne wat rondom 1977 gesluit het. Nadat die gouderts, tesame met ‘n aantal chemiese elemente in die goudsmelter teen 1600 grade Celcius gesmelt is, tree Pottie in as tussenganger. Die onsuiwerhede wat na bo beweeg, word in Pottie gegiet waar dit vir goud getoets word. Hierdie proses word herhaal ten einde al die onsuiwerhede te verwyder.

Hierna word die ingot-vorm goud – die ongeveer 80% suiwer goud – in ‘n blok wat rus op Pottie se “lippies”, gegiet. Hierdie blok word na die rafinadery gestuur nadat dit heeltemal afgekoel het. Daar is sekere aspekte wat Pottie beskerm teen die uitermatige hitte van die gesmelte erts, soos die lang stang en dik wande.

Hierdie artefak is aan Helpmekaar Kollege geskenk deur die kunstenaar, Erna van Wijk, nadat sy dit selfs vir party van haar kunsuitstallings gebruik het. Van Wijk het op Pottie afgekom by ‘n uitstalling waar Crown Mines hulle toerusting verkoop het nadat die goudreserwes uitgeput is. Sy het ‘n rukkie daarna na Wildernis verhuis en besluit om vir Pottie in die Stad van goud te los waar dit altyd sal deel wees van die geskiedenis.

Nadat Helpmekaar Kollege aan haar voorgestel is, het sy dit goed gedink om die artefak aan ‘n Afrikaanse skool, wat ook ‘n baie waardevolle geskiedenis handhaaf, te skenk. ‘n Plek waar Pottie se herkoms as belangrik geag sal word en deur baie bewonder kan word. Na die skenking is daar ‘n stemming gehou om oor die objek se naam te besluit. Leerders wat voorstelle vir name gehad het, het dit ingestuur, waaruit die beste een hiervan gekies is. Pottie was die gelukkige wenner.

So nee, die objek wat daaronder by die swembad staan, is nie net ‘n leë blompot of ‘n asdrom nie. Dit is ‘n merkwaardige deel van ons geskiedenis. Pottie verdien elke Helpie se respek!

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *