Peter McLea – ’n maestro van formaat

Peter McLea bekoor al gehore vir dekades. Foto deur Anika de Beer.

By Helpmekaar is die naam Peter McLea sinoniem met musiek en kreatiwititeit. Ons is bevoorreg om te kan deel in die talent van dié welbekende musikale genie. Sy twee kinders, Shani en Vaughan, is ewe talentvol. McLea, wat ’n BMus-graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het, is een van Suid-Afrika se mees talentvolle musiekvervaardigers en -verwerkers en het al talle toekennings verwerf. Van die hoogtepunte in sy loopbaan is die verwerkings vir en vervaardiging van ses van Laurika Rauch se albums en die orkestrasie vir die opening van die 2010 FIFA-sokkerwêreldbeker.

 

Volgens McLea was daar heelwat om in die kultuurafdeling te doen toe hy sewe jaar gelede by die skool aangesluit het. Hy het sy hele hart en siel in die ontwikkeling van die orkes gestort. Die orkes het jaar na jaar gegroei tot die puik vlak waar dit nou is, bestaande uit dertig lede. ’n Mens kan soms nie glo dat dit skoolkinders is wat so mooi musiek maak nie. “My visie is om ’n orkes te hê wat sowel bevredigend as aangenaam is vir die spelers en die gehoor wat na hulle luister,” sê McLea.

 

McLea noem dat een van sy mees besondere herinneringe die 2018 Helpie-kultuuraand was. “Die ouers het piekniekmandjies gebring en daar was ’n wonderlike atmosfeer in die saal tydens die optredes van die leerders. Mense het maande na die tyd nog oor die onvergeetlike aand gepraat. Ek het toe besef dat Helpmekaar se talentvolle kinders en hulle liefde vir kultuur regtig iets besonders is.” ’n Verdere hoogtepunt vir McLea was toe die musiekblyspel Gesertifiseer, die Musical tot die finale rondte van die ATKV-toneelkompetitise deurgedring het.

 

McLea het nie net groot drome vir Helpmekaar se orkes nie, maar ook vir die breër kultuuragenda van die skool. Sy visie is om kultuur meer relevant en toeganklik vir leerders en hul ouers te maak. “Ek wil graag hê dat elke leerder aan kultuuritems sal deelneem. Dit maak nie saak of jy uitblink in akademie of op die sportveld nie, kultuur sorg vir ’n goed afgeronde Helpie.” McLea is passievol daaroor dat kultuur nie net musiek, drama en dans behels nie, maar ook poësie, kuns en literatuur insluit. Kultuuraande bied ’n geleentheid vir leerlinge om met hul talente te spog en ook om die kuns te bevorder.

 

Met elke orkesoptrede, musiekblyspel en produksieliedjie word ’n hoë, professionele standaard van musiek gehandhaaf. McLea se ongewone verwerkings is manna vir die gees en die leerders kry die geleentheid om hulle musikaliteit uit te leef. Te danke aan ’n wêreldklas musikant, musiekverwerker en komponis het Helpmekaarstudente die voorreg om musiek te maak, kreatief te wees en hulself uit te leef. Dit is mos ware Helpie-magic.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *