Passie wat boekdele spreek

Cara Kotze

 

“Ek is dankbaar dat ek nog steeds werk, my passie vir boeke elke dag kan uitleef, en ‘n slim man het wat dit alles met my deel,” sê me. Carol Kriel, wat al vir die afgelope 10 jaar by Helpmekaar se bibliozone, “die bib”, werk. Me. Kriel werk al vanaf 2007 by Helpmekaar Kollege. Sy het aanvanklik begin as ‘n Afrikaansonderwyseres, in 2010 is sy as vakhoof aangestel en daarna in beheer geplaas van die bib. In 2020, 13 jaar later, doen me. Kriel steeds dít wat nog altyd haar passie is: om met kinders en boeke te werk.

 

Me. Kriel is ‘n uitstekende raadgewer vir die uitkies van enige leesboek, bloot omdat sy al die meeste van hulle gelees het. Elke boek wat ‘n plekkie op die rakke verdien het, is eers deur haar gelees en goedgekeur. “Dit is belangrik om te weet wat ons vir die kinders gee om te lees. Dit is waaraan ons hulle blootstel en wanneer ons kan, moet ons grusame inhoud beperk.” Me. Kriel is bewus van die diverse ouderdomsgroep wat daagliks die bib besoek: “Die bib is toeganklik vir enige leerder by Helpmekaar, dus moet ons verseker dat enige kind enige boek op die rak kan uitneem en daarmee tevrede sal wees. Ek dink dat dié bib ‘n plek is waar enige iemand enige boek kan kies, en dit gepas, maar terselfdetyd boeiend sal wees.”

 

Behalwe vir haar BA Honneursgrade in Geskiedenis, Afrikaans en Godsdienswetenskap, is me. Kriel ‘n gekwalifiseerde mediese tegnoloog. Me. Kriel sê dat sy aanhou studeer en grade verwerf het, bloot omdat sy mal was oor alles wat sy geleer het. “Dit was heerlik om al hierdie kennis te verwerf. Die gesprekke wat mens voer, die materiaal wat jy lees en die idees wat jy hoor – dit was eenvoudig net fantasties. Alhoewel ek moet bieg, ek nooit lus was om Meestersgrade te doen nie. Dus het ek net aangehou om BA’s te doen so ver as wat ek kon. Ek is bly ek het dit so gedoen, want ek het dit nie noodwendig gedoen om enigiets te behaal nie. Dit was net so interessant.”

 

Van haar gunsteling skrywers sluit in: Chris Karsten, Andre P. Brink, Dan Sleigh en Tryna du Toit. Sy vertel ook dat as sy saam met enige iemand koffie kon drink, dit Chris Karsten sou wees. “Ek sal met hom wil gesels om te hoor oor die verandering in sy lewe en of dit die karakterontwikkeling in sy boeke beïnvloed het.”

Haar gunsteling plek is ‘n kamer in haar huis wat sy as haar “den” gedoop het. Dié kamer is muur tot muur boekrakke, wat al haar boeke trots uitstal. “Daar kan ek net ontspan en lees – en bietjie spog oor my boekversameling!”  

 

 

Me. Kriel se liefde vir boeke kom al van haar kinderdae af en sy glo dat dit baie belangrik en voordelig is dat kinders lees. “Behalwe dat dit van jou vereis word regdeur die lewe, hoe meer jy lees, hoe beter kom jy aan die ander kant uit. Ek glo dit sonder twyfel.”

 

Me. Kriel beplan om die einde van hierdie jaar af te tree, maar sê dat sy beslis nog gaan kom kuier, “Ek kan nie weg bly nie, al probeer ek. Veral na al hierdie jare. Die skool is in mens se bloed en die mense klim tot diep in jou hart.”

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *