Onthoof? Nee, net beroof!

Marno Breytenbach

Die gevreesde Covid-19-pandemie het net weer bewys watter belegging ons in Helpmekaar en in besonder ons hoof, mnr. Klaus König, en sy personeel het.

Ons hoof was nou wel gestrand in die vreemde, maar nee mede-Helpie-troepe, ons is nie onthoof nie, net van ons kosbare tyd saam met die hoof, personeel en ons pelle beroof. Hierdie hoof se kop is reg aangeskroef. Sy skool hardloop soos ‘n geoliede masjien.  Elkeen bring sy kant.  Die onnies, wakker soldate, is op hul poste en die Helpie-troepe masjeer soos een man vorentoe, want 2020 gaan ons nie onthoof nie.

Mnr. Klaus König was dalk vir 81 dae in Mianmar gestrand, maar sy vinger was steeds sekuur op die Helpie-knoppie! (Foto’s: Facebook)

Tog is ons beroof, want die Helpie-gesiggies op my rekenaar kan nou maar eenmaal nie opmaak vir daardie ongelooflike tye op die bus en terrein nie.  Ook nie die rolletjie toiletpapier wat so deur die skerms aangestuur is nie.

Vir die eerstespanne was dit skielik hul laaste spanne.  Dis soos ‘n hoofstuk uit jou lewe wat nooit weer teruggekry kan word nie. Ek wil myself amper jammer kry. Om nie eens van die matrieks te praat nie.  Soos dinge nou lyk kan hulle dalk nog voor die rekenaarskerms matriekafskeid hou.

Maar ‘n Helpie reën nie nat nie – en ‘n Helpie val vir seker nie plat nie.  Ons hou ons koppe hoog, want ons is geanker.  Ons weet waar ons hulp vandaan kom.  Ons hulp is van die Here.  Hierdie skool is soos ‘n stad op ‘n berg wat nie versteek kan word nie.  Nee, dis nie ‘n “knockdown” nie, net ‘n “lockdown” en dit sal ook verby gaan.    

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *