Ontgrendel jou geestesgesondheid

Anje van Jaarsveld

Die meeste van ons het groot planne en aspirasies gehad om tydens die grendeltyd gesond te eet, fiks te word en dalk selfs ’n nuwe vaardigheid te bemeester. Tog het baie van ons waarskynlik vergeet om na ons geestelike welstand om te sien. Daar bestaan ’n paar algemene riglyne om gedurende hierdie unieke, maar ook uitdagende tyd te verseker dat jy kop bo water hou en nie in sak en as wil gaan sit nie. Hier is vyf wenke:

  • Vestig ’n roetine

Deur by ’n vasgestelde roetine te hou, behou jy struktuur in jou dag en voorkom dit die “slaap-in-die-dag-wakker-bly-in-die-nag-neiging”.

  • Vermy te veel sosiale media en ander nuus

Deur te veel tyd op sosiale media deur te bring, koerant te lees of nuus te kyk, skep onnodige angs oor ’n reeds stresvolle situasie en die groot hoeveelheid fopnuus lei tot ’n gevoel van paniek en verwarring.

  • Organiseer jou leefarea en werkspasie

Deur nie net jou gedagtes nie, maar ook jou omgewing te orden, sal jou rustig en kalm hou en maak enige taak soveel makliker om te voltooi.

  • Gee mekaar ruimte

Om die hele dag, elke dag in dieselfde mense se geselskap te wees, selfs al is dit jou gesin vir wie jy baie lief is, kan uitdagend wees. Doen daarom ook dinge op jou eie en gee jou gesinslede die ruimte wat hulle nodig het daarvoor.

  • Kry hulp

In hierdie tyd van wonderlike tegnologiese vooruitgang, is daar berading en sielkundige hulp beskikbaar deur middle van platforms soos Zoom en Skype. As dinge voel of dit buite beheer raak of jy het net nodig om uiting te gee aan jou vrese en ander emosies, is dit goed om met ’n opgeleide persoon te praat.

* SADAG (South African Depression and Anxiety Group) het ’n 24-uur-hulplyn beskikbaar op 0800 456 789 of via WhatsApp op 076 882 2775 tussen 09:00 en 17:00 daagliks.

Hoewel die meeste leerders in Julie teruggekeer het skool toe, kan ons hierdie wenke steeds ‘n sinvolle deel van elke dag maak en só verseker dat ons die res van die skooljaar produktief en positief aanpak! Bly veilig en gelukkig, Helpies!

Foto’s: iStockphoto.com; Hoofgrafika: Christiaan Brand

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *