Net rondlê? Beslis nie dié graad 8’s nie
Anje van Jaarsveld
Die Flitse het by ‘n paar graad 8’s gaan kers opsteek om te hoor watter nuwe vaardighede hulle tydens die inperkingsperiode aangeleer het.
Carla Klingbiel het haar vaardighede in die kombuis op die proef gestel en ontdek dat kosmaak vir haar baie vreugde bring! Sy vertel: “Ek is deesdae mal oor kosmaak en sal enigiets maak waarop ek my hande kan kry!“ sê sy. Haar gesin pluk beslis die vrugte van hierdie nuwe belangstelling. Carla en haar vriende het ook met die kreatiewe idee van ‘n fotografieklub begin, waarvolgens hulle elke dag foto’s neem volgens ‘n tema.
Katryn Jacobsz het weer tyd gemaak vir dit waarvan sy baie hou, maar ongelukkig nie altyd tyd het om te beoefen nie – kuns! Sy was baie kreatief en voel dat dit haar rustig en kalm gehou het.“Kuns was nog altyd vir my baie kalmerend, so dit het my goed gedoen!“ sê sy.
Nelius van Graan het besluit dat hy die inperkingstyd gaan gebruik om sy kulinêre vaardighede te ontwikkel. En wat is nou ‘n beter manier om te begin as by die eerste ete van die dag? Nelius het die gaarmaak van eiers vervolmaak. Nog ‘n Helpie-gesin wat vir seker voordeel uit hierdie talent getrek het!

Dehan Buys het twee nuwe vaardighede aangeleer – en die een moes noodwendig ‘n gevolg van die ander gewees het! Dehan het entoesiasties begin houtwerk doen en geduld (en ‘n paar handige houtartikels) was die vrugte wat hy gepluk het.

Mignonne de Beer het gereken dat geen inperking haar van sport gaan ontneem nie en sy het met hart en siel begin met ‘n binneshuise aktiwiteit en haarself as die De Beer-huishouding se foosball-kampioen gevestig.

Sonder om twee keer te dink, het Dylan van Rooyen met trots vertel dat hy uit sy gemaksone geklim het en tydens hierdie tyd van isolasie sy hande behoorlik vuilgemaak en geleer het om in die tuin te werk – met goeie gevolge! Dylan-hulle se tuin is nou spoggehalte!