n Tyd om tuis te bly, ‘n tyd vir waardering

Cara Kotzé

“Ons het ons grense vir die wêreld gesluit, ons kinders is nie op skool nie, besighede het hul bedrywighede gesluit, baie het hul inkomste verloor, en ons ekonomie het tot stilstand gekom. En u het die beperkings ervaar op die daaglikse vryhede wat ons almal as vanselfsprekend aanvaar.”

Só groet pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrikaners na 14 dae van grendeltyd. Suid-Afrika het so te sê tot stilstand gekom, en die burgers het die direkte impak daarvan ervaar.

Baie het met afwagting geluister na pres. Ramaphosa se plan vir die voorsienbare toekoms, met die hoop dat die aanvanklike “21 dag inperking” net vir 21 dae sal duur. Vinnig daarna is daardie hoop vernietig. Met die 14 dag verlenging het dit gevoel asof die vorige twee weke se uithou tot niet gegaan het. Maar die inperkingstyd het ook beteken dat Suid-Afrikaners verder kon besin oor die lewe, hulle plek daarin en droom oor die toekoms.

Jay-Deane Joubert (gr.11) het die inperking tyd gebruik om kreatief te word in die kombuis: “Alles van ‘n piesangbrood bak tot ‘n viergangmaaltyd voorberei, ek het ure in die kombuis deurgebring. Die hoogtepunt van my inperking was beslis ons gesin se bordspelaande op die stoep.”

Emma en haar hond, Dude, hardloop om die huis.

Emma Dirks (gr.11) het geleer dat as sy sewe keer om haar huis hardloop, sy al een kilometer agter die rug het. Sy benut hierdie aftyd voluit en sê: “Hierdie is ‘n eens in ‘n leeftyd tydperk, dit is belangrik om dit elke dag te onthou.”

 

Alhoewel die Helpies die beste van die inperking maak, word daar reeds beplan aan ‘n (sosiale) lewe post-inperking:

Simóne geniet ‘n koppie koffie by die huis.

Simóne Shirley (gr.12) sien uit daarna om weer normale roetine te volg en ‘n sosiale kalender te hê: “Ek wil weer knus koffiewinkels besoek en met mede-koffieliefhebbers in persoon gesels.”

Danielle geniet die tyd saam met haar gesin.

Danielle du Preez (gr.11) het besef dat sy meer tyd moet maak vir die dinge wat haar gelukkig maak en nie net dit doen wat roetine vorm nie. “Ek gaan anders na die wêreld kyk, ek doen klaar! Ek het opnuut waardering vir alledaagse dinge, maar ek wil die graagste weer omring word met mense en hulle energie aanvoel.”

 

Om koffie te drink saam met ‘n vriendin, saam met familie om ‘n tafel te sit, om die energie van ‘n stadion gepak met mense te beleef, of om in Maandagoggend se saaldiens te sit. Elke dag word alledaagse seëninge van samehorigheid op ons neergestort en miskien het hierdie inperking jou gebaat deur jou te herinner dat dit nooit weer as vanselfsprekend geneem moet word nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *