‘n Slimkop wat aanhou gee

Me Lida Smith en Marnique Hibbert in haar wetenskapklas. Foto deur Cameron Sharp.

Me Lida Smith is nie net wetenskap-onnie van formaat nie, sy is ook die meesteronderwyser en die lig in Helpmekaar se wetenskap-departement.

 

Hierdie geliefde juffrou het op sestienjarige ouderdom aan Hoërskool Roodepoort matrikuleer. Daarna het sy by Tukkies wiskundige wetenskappe gaan studeer. Me Smith , die vrou van vele talente wat sy is, het ook begin koor sing in haar tweede jaar. Kort daarna is sy op ń koortoer na Europa – waar sy haar man vir die eerste keer ontmoet het. Me Smith het ook geskiedenis gemaak by Tukkies toe sy die eerste vroulike dosent in toegepaste wiskunde word. Na vyf jaar as dosent het die Smith-egpaar na Johannesburg verhuis. Me Smith het die somme verruil vir doeke en het vir tien jaar voltyds haar kinders versorg. Haar onderwysloopbaan het baie toevallig begin toe sy gevra is om ń aflospos te vul. Haar buitengewone liefde vir mense, maar veral kinders, het ń nuutgevonde passie geïnspireer en haar aangespoor om by UNISA in te skryf om haar onderwysdiploma te voltooi. In 1987 het sy ń permanente pos by Hoërskool Vorentoe, waar sy vir 17 jaar skool gehou het, gekry. Me Smith se pad by Helpmekaar Kollege het in 2003 begin op uitnodiging van die hoof, mnr Klaus König.

 

 

Me Smith trap al vir baie lank diep spore in vele harte. “Ek het al vir vir Helpie-onnies soos mnr Max de Beer, mnr Dewald Peyper en selfs Helpmekaar se akademiese hoof, me Estie Meyer, skoolgegee,” sê sy. Verder het sy het ook reeds haar merk in die onderwyswêreld gemaak deur die rol van IEB-eksaminator, handboekskrywer, sowel as vertaler te vervul.

 

 

Buiten vir haar diep spore in die onderwyswêreld, is Me Smith ook bekend vir die magdom geduld en die hope en hope liefde wat sy onvoorwaardelik aan elkeen van haar leerlinge gee. Hoe kry sy dit reg? Sy stel dit eenvoudig: “ Ek ís net lief vir mense. Alles in die wêreld is maar net vir my mooi – die mense, die diere, die natuur… Ek hou nie van dinge wat oordoen en oordrewe is nie. Ek hou van die kalmte, die eenvoud. Hoe ouer ek word, hoe meer bewus raak ek van hoe klein deeltjie ek van alles is. So, ek probeer dit net lekker maak vir die mense om my, want ek kan nie meer doen as dít nie.”

Me Smith se stokperdjies sluit lees, hekel en brei in en sy vertel gereeld hoe trots sy op haar kleinkinders is.

 

Sy is in vele opsigte ń pilaar en ń rolmodel wat voortdurend gegroei het as mens en daarom is haar gunsteling spreekwoord vanpas om haar lewe tot dusver te beskryf: “Life can only be understood backwards, but can only be lived forward.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *