‘n Onsigbare kiem lei tot ‘n groot openbaring

Nikolas Germishuysen

Die afgelope elf weke het ‘n groot leemte in ons matrieks se lewens gelaat. Buiten die feit dat ons te midde van ‘n gesondheidsbedreiging en politieke woelinge moet probeer fokus op ons skoolwerk, is daar baie onbeantwoorde vrae: Sal ons nog hierdie jaar matriek kan skryf? Gaan ons betyds wees om in volgende jaar se eerstejaarsgroep opgeneem te word op universiteit? Wat van die matriekafskeid? En ons matriekvakansie wat ons nou al so lank beplan?

Terselfdertyd moet ons wroeg met skuldgevoelens. Hoe kan ons kla oor sulke onbenullighede, terwyl ander wonder waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom? Wees dankbaar vir wat jy het. Hierdie gedagtes oor dankbaarheid het my aan die dink gesit en wat ek besef het, was ‘n openbaring.

Nikolas Germishuysen(Gr. 12)

My skool is die bloed in my are. Alhoewel ek nog altyd besef het dat ek bevoorreg is om in Helpies te wees, het ek nooit besef hoe my skool my siel voed nie. Hierdie leemte wat ek voel, is Helpie-deprivasie. Ek mis die gange, die gebou, die klasse, die onderwysers, die tradisies, die uniform, die geesvang, die kreet wat my hoendervleis gee, die saamkla oor die werkslading, groepsperiode saam met me Natalie en mnr Tommy, die skoollied en die saamwees – doodeenvoudig net Helpiewees. Selfs in noodgedwonge skeiding staan die ketting sterk.

Nooit weer sal ek om ‘n Helpie te wees, as vanselfsprekend aanvaar nie. My matriekjaar sal ek beslis altyd onthou. Nie omdat dit die jaar van die virus was nie, of die jaar van laastes nie. Ek sal dit nooit vergeet nie, omdat dit die jaar was wat ek besef het dat ek altyd ‘n Helpie sal wees, in murg en been.

Vir ons matrieks is die son besig om agter die koepel van Helpmekaar Kollege te sak. Ek is dankbaar om nog in die goue uur op die pawiljoen te kan sit, al is dit met ‘n masker aan en twee meter weg van my vriende. Die bruin reus op die bult slaap, maar hy word weer wakker.

My wens vir elke Helpie is dat jy nie so doelgerig moet wees dat jy alles miskyk langs die pad nie. Stop vir ‘n oomblik en neem alles om jou in. Wees dankbaar vir waar jy is en vir die mense om jou. Hierdie is dan ook my laaste artikel vir die Helpieflitse. Dit is met ‘n bittersoet gevoel in my hart dat ek aan die einde van my 2020 matriek-journey groet. Wees gegroet, Helpmekaar. Komaan!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *