‘n Helpie bly ‘n Helpie

Johann C. Mouton was die trotse hoofseun van Helpmekaar Kollege in 1989. Johann is ‘n geoktrooieerde rekenmeester met ‘n passie vir die natuur, fotografie en in sy vrye tyd speel hy graag gholf.

Dertig jaar na sy matriekjaar is hy steeds deel van die Helpie-gemeenskap en is feitlik altyd op die pawiljoen wanneer die Helpies uitdraf op die rugbyveld.

Hy deel sy kosbare herinneringe en wense vir Helpmekaar deur ‘n paar vrae te beantwoord.

  1. Wat was jou gunsteling kreet op skool?

Dit is ‘n baie interessante vraag wat ek nie eintlik kan antwoord nie, want die spesifieke kreet het ‘n baie lelike woord bevat wat nie vir kinders se gebruik behoort te wees nie (veral nie as daar dogters by is nie).  Ons het dit gewoonlik geskree om ander skole en individue sleg te sê en dit het nogal die beoogde doel gedien as die hele skool uit volle bors geskree het.

  1. Was dit lekker om net saam met seuns skool te gaan?

Ja, dit was baie lekker.  Soos met alles het dit seker sy voor- en nadele, maar die seuns kon meer hulle stoute self wees in die klasse en op die gronde (ek sou dink meer stoute self sonder meisies, maar sal nie weet nie).  Daar was altyd die meisieskool aan die ander kant van die pad en ons het gereeld daar gaan oë wys, so daar was darem ‘n sekere mate van interaksie tussen die seuns en dogters.  Ek dink die meeste van ons het goed uitgedraai, so die nadele kon nie te erg wees nie.

  1. Wat was een van die tradisies wat vir jou spesiaal was?

As ek dit ‘n tradisie kan noem, is dit onbeperkte respek en liefde vir ons skool.  Wat ek daarmee bedoel is die behoorlike dra van die skoolklere, baadjie ingesluit by skoolbyeenkomste, asook die sing van die skoollied uit volle bors.  Dan was daar die speel van die destydse temalied (Eye of the Tiger) van die fliek “Rocky” as die eerste rugbyspan op die veld gedraf het.

  1. Wat is jou kosbaarste herinnering?

Ek moet bieg dat ek nie regtig net een spesifieke herinnering het wat my gunsteling is nie.  Wat ek onthou as ek terug dink aan my tyd by Helpmekaar, is dit die goeie vriende wat ek gemaak het en die pret wat ons vir vyf jaar lank saam gehad het.

  1. Jy is nog aktief betrokke by die Helpmekaar-gemeenskap. Wat is jou opinie oor die huidige Helpmekaar?

Die huidige Helpmekaar is vir my uitsonderlik.  Daar was ‘n paar jaar net na ons uit die skool is, wat dit gelyk het asof die skool dit nie gaan maak nie en dit het my destyds baie hartseer gemaak.  Gelukkig is die skool danksy Mnr König en die span onnies wat hy oor die jare saam met hom gehad het, nou waar dit is.  Soos ek genoem het – uitsonderlik en die skool produseer elke jaar en dag uitsonderlike jong mense wat baie trots kan wees op hulle skool en wie hulle is.

  1. Het jy nog kontak met van party van jou skoolvriende?

My beste vriende vandag is van my skooldae af.  Ons almal lyk seker bietjie meer gehawend, maar sien mekaar gereeld en kuier steeds baie lekker saam.

  1. Helpmekaar word binnekort 100 jaar oud. Wat is jou wens vir Helpmekaar?

My wens is dat die skool nog honderde jare moet voorbestaan en bou op wat hulle het.  Ek is nie seker waar daar verbeter kan word nie, want alles lyk vir my asof dit baie goed werk (akademie, kultuur, asook sport).  Daar is miskien een ding – wen asseblief ‘n Virseker-Bekerfinaal.

Johann Mouton en sy vrou, Eloize Eksteen. Foto verksaf deur Johann Mouton.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *