MODEPARADE: GETOOI MET KLAS EN STYL

Foto deur Wind Photographic.

Die gebruiklike “ligte, kamera, aksie” moes vanjaar op sy staan vir “donker, druppels en donderweer” by Helpmekaar se modeparade. Asof die laatmiddag-blitsstorm spesiaal vir die tema, water, bestel is, het die jaarlikse modeparade op 28 en 29 Februarie die gaste behoorlik met water, reën en donderweer in ‘n storm ontvang.

 

Die aantreeblad en parkeerarea is omskep in ‘n sprokiesagtige water-wonderland. ‘n Groot spierwit markiestent met ‘n 30 m-loopplank het 450 gaste per aand na ‘n glansryke modewêreld weggevoer.

 

Die modevertoning is geopen met uitrustings spesiaal volgens die tema, water, ontwerp deur die befaamde Yihan Brönn. Moné Rossouw (gr.12) was gekleë in ‘n rok gepas vir ‘n waternimf. Gemaak uit plastiek, blou material en fyn geborduurde kraletjies, het hierdie rok die beeld van ‘n waterval weerspieel. Nikolas Germishuysen (gr.12) het die donderweer op die loopplank mimiek met sy smeulende waterbroek en weerlig-vlerke. Daarna is verskeie ander bekende ontwerpers se kledingstukke ook tydens die aand vertoon, o.a. die wêreldberoemde Marianne Fassler, sowel as Lunar, Anel Botha, 39 Dresses, New Romantics en Silver Swallows. Lyndré Kruger (gr.12) en Vaughn McLea (gr.12) het as serimoniemeesters opgetree en die gaste met hul watergrappies en staaltjies deur die aand begelei. Ook hulle was stylvol en tema-gepas uitgevat in uitrustings deur die bekende Kobus Botha.

 

“Everybody was so eager to learn and that’s why the rehearsals and choreography went so smoothly. That is why the show was so pleasant,” vertel Andiswa Manxiwa, model en modeprodusent. Helpmekaar het weer die voorreg gehad het om die loopplank met Andiswa te deel. Sy was die afgelope twee jaar betrokke by hierdie geleentheid en sê dat sy in die toekoms bereid sal wees om terug te kom: “Because of the reception, humility and the humble way of the students, always welcoming me warmly, it is something I will do over and over again.”

 

Die aand se sukses sou nie moontlik wees sonder die fynproewer driegang-maaltyd deur ons skool se eie meester-sjef, Chris van Niekerk. Die musiekgroep, Georgetown, het die gaste met hul Blue Billy Folk Pop-musiek vermaak terwyl die kelners, gekleë in wit en silwer, die glase volgehou het.

 

Onder leiding van me. Melani Dirks, direksielid en ouer van Helpmekaar Kollege, en die bekwame me. Linda van Niekerk, onderwyseres van Helpmekaar Kollege, het 66 modelle en 82 kelners saam met gewillige ouers en personeel weereens van hierdie geleentheid ‘n glansryke modevertoning getooi met klas en styl gemaak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *