Mini-Getaway-kamp stel nie teleur nie

DI Hub word goudgeel verlig deur die sonsondergang terwyl kampangers lofsing tydens die Mini-Getaway-kamp. (Foto verskaf)

Deur Nina Germishuysen

Die gewilde jaarlikse Getaway-kamp, wat gewoonlik oor vier dae strek, was noodgedwonge in 2020 ook aan die inperking onderworpe. Maar tipies aan die Helpie-gees, waar dinge in tye van krisis nie afgestel word nie, maar daar eerder geïmproviseer word, het die organiseerders besluit om dié tradisionele uitkamp te omskep in ‘n tuiskamp.

Ten spyte van die feit dat dit skoolvakansie was, het ongeveer 40 Helpies op Sondag 11 Augustus opgewonde by die skool bymekaargekom, uitgehonger vir geestelike vernuwing.  Die groep, wat uit verskeie grade bestaan het, het eers nader kennis gemaak oor beskuit en warmsjokolade. Die feit dat veral die matrieks ‘n groot behoefte aan geestelike kameraadskap gehad het, blyk uit die feit dat hulle die grootste groep was. Cameron Sharp (gr. 12), stel dit so: “Alhoewel hierdie nie die gewone Getaway-kamp ervaring was nie, was dit vir ons matrieks uiters nodig. Die dag was ‘n hoogtepunt van my matriekjaar. God se teenwoordigheid was tasbaar en ons kon met nuwe energie daar weggaan.”

Aangesien mnr. Morné Basson en mnr. Marnus Grobler slegs ‘n paar uur tot hulle beskikking gehad het, was die program propvol. Die oggend is bestee saam met ‘n onbekende maat van ‘n ander graad, waar ‘n geestelike skattejag vele verrassings opgelewer het. Daarna het kreatiewe Jenga-antwoorde vir baie pret gesorg. Kampgangers is bederf met pizza en gesellige saamkuier vir middagete.

Geestelike getuienisse is gelewer en selfs die mees geharde deelnemer moes trane wegsluk. Die hoogtepunt van die dag was beslis die asemrowende sonsondergang wat DI Hub goudgeel verlig het, terwyl daar aanbid is met kitaarbegeleiding.

Die mini-Getaway-kamp het beslis nie teruggestaan vir die Ware Jakob nie. Volgens mnr. Grobler was die samekoms juis verfrissend in die grendeltyd, wanneer almal dit nodig gehad het. “Vir die Heilige Gees is daar nie ‘n regte plek of ‘n regte tyd om te werk nie. Hy daag altyd op. Alhoewel hierdie dag ‘n ander ritme as die normale kamp gehad het, was dit Sy wil dat dit juis daardie mense was wat op daardie dag daar moes wees.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *