Matrieks maak geskiedenis

Anja Steyn

 

Die matriekgroep van 2019 het alle verwagtinge oortref en geskiedenis gemaak in hul finale eksamen. 202 matrieks het die IEB-eindeksamen afgelê en elkeen het met universiteitstoelating geslaag.

 

Bo en behalwe dié indrukwekkende uitslae, het twee leerders, Mignon Drotschie en Jana Botes, elk 11 onderskeidings behaal. Verder het vyf leerlinge 9 onderskeidings en nog vyf matrikulante 8 onderskeidings losgeslaan. Sowat ‘n kwart van die groep het 5 A’s en meer behaal en 68% van dié groep het ‘n finale gemiddeld van minstens 70% behaal.

 

Henri Staal, ‘n matrikulant wat 9 onderskeidings behaal het, sê: “Ek was baie beïndruk met my mede-Helpies wat voor my gematrikuleer het wat onderskeidings in al hulle vakke behaal het en het toe besluit om dieselfde doelwit na te jaag.” Sy raad aan die matrieks van 2020 is om deurlopend hard te werk deur die jaar. Hy raai matrieks ook aan om hard te werk aan hul portefeuljestukke. “‘n Goeie portefeuljepunt kan jou red van ‘n glipsie in die eindeksamen!” Henri studeer tans Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch.

 

Josh Stockigt, ‘n Helpie wat in 2019 met 8 onderskeidings gematrikuleer het, se grootste motivering om hard te werk het gekom van die feit dat hy Veeartsenykunde wou gaan studeer. “Om in te kom moes ek niks minder as ses onderskeidings kry nie.” Hy sê verder dat deur sy hoërskoolloopbaan by Helpmekaar hy geleer het om niks halfhartig te doen nie, dus het hy gemik vir onderskeidings in al sy vakke. Josh se wenke aan toekomstige matrieks is om hard te werk om jou doelwitte te bereik, maar nie toe te laat dat dit jou lewe oorneem nie. “Wees gesond en gaan uit, kuier en spandeer tyd saam met jou vriende, anders gaan jy mal word.” Josh gaan hierdie jaar Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Toppresteerders van 2019, Amika Swanepoel, Jana Botes en Gustav Klingbiel, tydens die Akademiese gala-aand. Foto verskaf.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *