Matriekafskeid 2020: ’n Perfekte oomblik in tyd

In ’n jaar wat alles behalwe normaal was en die meeste aktiwiteite en funksies afgestel of uitgestel is, was die glansryke matriekafskeid vir seker ’n hoogtepunt op 2020 se kalender. Die Flitsegesels met ’n paar van die matrieks oor hierdie eenkeer-in-’n-leeftyd aand.

Jené Becker het klassieke eenvoud in haar middernag-blou rok uitgestraal. “My rok was nogal ’n interessante ding om bymekaar te sit. Ek kan nie by “gewone” winkels rokke gaan aanpas nie, omdat ek te kort is en die rokke dan nie die regte proporsie het nie. Hoewel dit gewoonlik die geval is, het ek steeds die perfekte rok gekry! Toe ek en my metgesel, Neale Berkenbosch, mekaar gesien het by die plek waar ons foto’s geneem het, was ons albei verwonderd en dit sal ek altyd onthou,” vertel sy.

Deon de Wet het uitgestaan met sy Cowboy-hoed. Hy sê: “Die meeste mense ken my as ’n boerseun, en dit is wie ek is, ’n eenvoudige boerseun. Helpmekaar het my geleer om myself te wees en daarom die hoed.”

As gevolg van die Covid-19-pandemie het maskers ewe skielik die mode geword en die Helpies het masker-dra in styl gedoen. Misha Marais het beslis die top-modetendense gevolg met haar pragmasker. “Ek wou ’n masker gehad het wat lyk asof ek kant het wat oor my gesig geplaas is. Victor Reed het individueel die stukke kant aan die masker gewerk en dit het my uitrusting pragtig voltooi.”

Die meeste meisies droom van kleins af oor hoe hulle matriekafskeidrokke gaan lyk. Marine van Staden, getooi in rooi, gesels oor die inspirasie agter haar rok: “Dit was vir my ’n groot droom en moes perfek wees! In graad 8 het ek reeds die rooi rok raakgesien en geweet dít is die een. Die rok het my naam op gehad!”

“Staan uit!” was Ruben Barnard se leuse vir die matriekafskeid. Met sy unieke styl het hy beslis aan dié leuse gestand gedoen. “Ek wou ’n eenvoudige en klassieke pak hê. My pak was perfek!”

Nie almal hou van tradisioneel wees nie en Kristian Roode het sy oorspronklike styl op die rooi tapyt kom afwys met sy kortbroekpak. “Ou maniere maak nie nuwe deure oop nie. Ek wou anders en gemaklik wees,” vertel hy.

Motors was definitief nie wat vir Melbirt van der Spuy geïnteresseer het nie, hy verkies veel eerder ’nkragtige motorfiets. “Ek wou iets oorspronklik en verfrissend doen. Iets wat niemand waarvan ek weet al van tevore gedoen het nie,” sê van der Spuy.

Daniel Roodt het met sy onverwagte vierpotige metgesel die gaste se harte gesteel. “Max, ons hond, was nie van plan om saam te kom nie, maar toe ons moes ry, het hy in die kar gespring. Hy word toe my metgesel wat vir my baie spesiaal was.”

Almal weet ’n motor is deel van die pakket wanneer dit by matriekafskeid kom en Winifred Stapelberg en haar metgesel, Jacques de Klerk, het gesorg vir ’n heerlike nostalgiese verrassing.

Tydloos en klassiek was vir baie meisies die tema vir hul rokke. Zandri Swanepoel het dit beslis haar eie gemaak met haar rok. “Ek wou van die begin af ’n rok gehad het wat anders is. Ek het besluit op ’n klassieke ‘old Hollywood’-styl.”

Ethan Herselman  het met sy kleurvolle pak almal se asems weggeslaan. “My inspirasie was Conor McGregor se pakke en toe bestel ek dit van oorsee af.”

Adelay Pretorius vertel dat Aspoestertjie haar inspirasie was: “Ek het nog altyd hierdie Aspoestertjie-prentjie in my kop gehad waar my rok so wyd moet strek wanneer ek in die rondte draai. Ek wou ook twee kleure hê wat perfek saam pas en wat nog nooit gebruik is nie.”

Helene van der Walt en Tiaan Luwes was ’n pragtige paartjie. “Dit was so gemaklik en lekker om die genot van die matriekafskeid met Tiaan te kon deel. Dis vir my baie spesiaal dat ek hierdie hoofstuk saam met hom kon afsluit, want dit het alles net soveel meer verryk.”

Wie sou kon dink dat die kleur wat eintlik vir ’n troue gereserveer is, so elegant en grasieus sal lyk op die matriekafskeid-rooitapyt. “Ek het besluit ek gaan net gaan vir ietsie doodeenvoudig, elegant en ’n ‘statement’. En watter kleur pas dié drie goed beter as wit? Dis vir my ’nkleur wat onbeskaamd en terselfdertyd eenvoudig is,” sê Simone Shirley wat prentjiemooi op die aand gelyk het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *