Matriek: ook die gewaarwordingsjaar!

Karla Jonker

“Die Bruin Reus op die Bult”, “Die Helpie-magic”, “Die Helpie-ketting”, “Komaan”. Hierdie sê-goed is slegs ‘n paar van die Helpies se gunstelinge. Dit is terme wat al aan ‘n Welpie in sy of haar eerste skooldae oorgedra word, maar waarvan die betekenis slegs al hoe meer na die einde van die skoolreis werklik begryp word.

Die Flitse het vir ‘n paar matrieks gevra wat, volgens hulle, Helpmekaar Kollege anders maak, wat hulle waardeer en wat hulle deur hul skoolloopbaan geleer het.

Jacques Raath sê: “Helpmekaar het my geleer dat die lewe oor herinneringe gaan. En die beste manier om herinneringe te maak, is om in die oomblik te leef! Eers as jy in matriek is, wens jy dat jy vroeër jare jou naam opgegee het vir al die lekker aktiwiteite wat Helpmekaar bied, sodat jy meer herinneringe kon maak!”

Matrieks, Vaughan Mclea (agter), Nikolas Germishuysen (middel) en Jacques Raath (voor). Foto deur Cameron Sharp.

Nathan Raath. Foto: verskaf.

“Dit maak nie saak waar jy op die skoolterrein is nie, jy sal altyd iemand hoor lag of sien glimlag. Dit is iets wonderliks van Helpmekaar!” sê Nathan Raath.

Ruan Gerber (links) en Sebastine Watney, Foto deur Pieter le Roux.

“Jy sien eers in matriek wat die Helpie-army se magic aan jou doen wanneer jy besef dat jy heeltemal selfstandig is en dat jy geleer het om die positiewe raak te sien in ‘n slegte situasie. Dan besef jy dat jy hierdie karaktereienskappe hier (by Helpmekaar) geleer het!” vertel Ruan Gerber.

Mia Louw vertel: “Iets wat ek bewonder by Helpmekaar, is die respek tussen almal. Tussen busbestuurder en leerder, onnie en leerder, vriende en almal anders!”

Mia Louw. Foto deur Cameron Sharp.

Dharma Botha. Foto: verskaf.

“Dit is vir my fantasties dat Helpmekaar ‘n geleentheid vir almal bied. Hier gaan dit nie net oor kultuur of sport of akademie nie. Dit stel ‘n werklike familie voor waar die hele skool ‘n eenheid is,” sê Dharma Botha.

“Helpmekaar leer mens om werklik lief te wees en om om te gee vir mense. Jy leer om iets vir jou vriende te beteken en om hulle te waardeer. Jy leer om werklik deel te wees van ‘n familie!” vertel Liam Ness.

Liam Ness. Foto deur Cameron Sharp.

Henry Keyter vertel: “Dit is vir my merkwaardig hoe Helpmekaar ‘n eenheid vorm. As jy kyk hoe die matriekgroep nou as ‘n eenheid optree en hoe ons almal in graad 8 individueel rondgeskarrel het, sien jy hierdie proses raak. Jy begin dalk jou skoolloopbaan alleen, maar jy eindig hom beslis nie alleen nie!”

Adelay Pretorius. Foto deur Nikita Venter.

“Ek waardeer die omgee en moeite wat die onderwysers toon. Hulle loop altyd die ekstra myl en dra ons deur al die goeie, asook moeilike tye deur ons skoolloopbaan. Die verhouding wat ‘n mens met hulle bou deur die jare is noemenswaardig!” vertel Adelay Pretorius.

Charlize Bergh. Foto: verskaf.

“Ietsie waaraan ek baie sentimentele waarde geheg het deur my skoolloopbaan, is Helpmekaar se tradisies! Hierdie eeu-oue tradisies vorm deel van ons herinneringe van graad 8 af, maar is iets wat ek nooit sal vergeet nie,” sê Charlize Bergh.

v.l.n.r. agter: Adriaan Steyn, Nikolas Germishuysen, Rieghardt van der Merwe, Leon Truter                                                         v.l.n.r. voor: Cameron Sharp, Lyndré Kruger, Moné Rossouw, Chanell Landman, Cara Gouws. Foto: verskaf.

Adriaan Steyn sê: “Die respek wat vir ons as matriekgroep getoon word, is opvallend! Die omgee wat almal vir mekaar toon en die onderwysers se oorvloed van liefde is ook baie eie aan Helpmekaar.”

Michaela Koen. Foto: verskaf.

Michaela Koen vertel: “Ek is so dankbaar vir die Helpmekaar-onderwysers wat die moeite doen om jou as mens werklik te leer ken, en dit in hulle leerproses te gebruik. Deur die jare leer ontdek hulle hoe jy persoonlik funksioneer en behandel jou daarvolgens.”

Karla de Jager. Foto: verskaf.

“Helpmekaar het my geleer dat enigiets moontlik is, maak nie saak hoe min tyd of onder hoeveel druk jy is nie. Jy moet die situasie net met deursettings- en uithouvermoë aanpak,” vetrel Karla de Jager.

Marno du Plessis sê: “Wat wonderlik is van Helpmekaar is dat daar niks is wat die Helpies terughou nie! Dit maak nie saak watter uitdagings ons in die gesig staar nie, Helpies sal altyd bo die omstandighede uitstyg. Watter lewenslesse en uithouvermoë kan ons nie uit hierdie situasies leer nie!”

Ziané Neethling. Foto: verskaf.

Ziané Neethling vertel: “Mens kom eers in matriek agter watter geweldige impak almal wat deel is van die Helpie-familie op jou lewe het en hoe baie jy almal se insette waardeer!”

Mia Bronkhorst. Foto: verskaf.

“Ek waardeer al die Helpies en hulle omgee teenoor mekaar! Al ken jy nie iemand persoonlik nie, sal hulle nie skroom om jou te komplimenteer of iets te doen om jou dag beter te maak nie! Almal kyk uit vir mekaar,” vertel Mia Bronkhorst.

Zack van Zyl. Foto: Cameron Sharp.

Zack van Zyl vertel: “Helpmekaar het my geleer dat ek nie moet konsentreer op prestasie nie, maar op my waardes en eie karakter en die res sal volg! Om dit te geniet as ander mense hulle plekkie in die son kry en nie net te soek na my eie stukkie son nie. Helpmekaar het waarde tot my lewe gevoeg en ek sal dit vir niks verruil nie!”

Daar is iets spesiaal aan matriek, miskien veral in hierdie tyd van Corona. Nie net omdat dit die finale skooljaar is nie, maar ook omdat die krag agter hierdie woorde dán eers begryp word. Dit is die jaar waarin ‘n leerder se volwassewording werklik waargeneem word. Wanneer daar besef word dat die skool sy doel gedien het, nie net op akademiese vlak nie, maar ook op persoonlike vlak. En dat die groep die geleentheid gegun moet word om die lewe selfstandig aan te pak.

One thought on “Matriek: ook die gewaarwordingsjaar!

  • June 11, 2020 at 3:32 am
    Permalink

    I am extremely inspired together with your writing abilities as neatly as with the structure on your weblog.
    Is that this a paid subject matter or did you modify
    it yourself? Either way keep up the excellent high quality writing, it is uncommon to peer
    a nice blog like this one today..

    Have a look at my homepage: news

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *