Maskers, modelwerk én matriek

Aldoné Kok

 

Carami van der Vyver (gr.12) het nie in dié moeilike tyd vergeet om te leef nie. Hierdie beeldskone matrikulant het ten spyte van isolasie en die onsekere tye, steeds met haar sprankelende skoonheid vir die top-30 van Sarie se nuwegesigkompetisie gekwalifiseer. Hoewel sy nie die toptien gehaal het nie, het sy tydens ‘n onderhoud dit duidelik gemaak dat sy beslis nie net ‘n mooi gesiggie is nie.

Carami van der Vyfer (graad 12) was een van die top-30 finaliste in Sarie se nuwegesigkompetisie (Foto’s: Facebook; Sarie)

 

Wat het jou laat besluit om in te skryf vir dié kompetisie?

Ek hou van ‘n nuwe uitdaging en dis vir my baie lekker om deel te neem aan kompetisies. Ek glo deur deelname leer jy jouself beter ken en so groei jy as mens. Tydens die inperking het my ma op sosiale media van die kompetisie te hore gekom en my ma weet dat ek nooit nee sal sê vir ‘n uitdaging nie.

Het jy al aan enige ander skoonheidskompetisies deelgeneem?

Toe ek 4 jaar oud was, was ek die voorbladgesigwenner van Baba en Kleuter-tydskrif. My ouers het vroeg reeds geweet ek hou baie daarvan om voor die kameras te wees. Toe ek in graad 8 was, het ‘n agent my raakgesien saam met my ouers in ‘n winkelsentrum en my ouers genader dat ek aan ‘n modelkompetisie moet deelneem. Ek het daardie jaar aan die Model van die Jaar-kompetisie deelgeneem en deurgedring na die finaal en ‘n derde plek in Suid-Afrika verwerf. Die jaar daarna is ek genooi om voor 15 internasionale agente op die MSC-skip deel te neem. Die volgende jaar het ek weer deelgeneem en 8 agente het belangestel om met my te gesels oor moontlike kontrakte. Ek het ook deelgeneem aan Gesig van die Jaar en hier het ek ‘n tweede plek verower.

Hoe voel dit om die top-30 te kon haal?

Ek is baie dankbaar om deel van die top 30 te kon wees, want daar het so baie meisies van regoor Suid-Afrika en Namibie ingeskryf. Elkeen van die meisies wat ingeskryf het, is uniek en elkeen het hul eie storie. Ek voel baie geëerd, want net soos al die ander meisies het ek ook my eie unieke storie wat ek vir die wêreld wil vertel. Dit was ongelooflik lekker om vir die Sarie-tydskrifspan deur sosiale media te wys wie ek is en ek is baie dankbaar dat hulle my die afgelope tyd so kon leerken om. Die top 30-meisies is almal besonders en vol energie en lewenslus. Ek kan nie anders as om net so bevoorreg te voel nie. Ek is ook baie dankbaar vir my ouers en vriende se ondersteuning, want sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.

Was daar enige uitdagings tydens die hele proses?

Net soos in enige ander kompetisie was daar beslis ook sekere uitdagings tydens hierdie kompetisie. Hoe jy jouself uitgebeeld het en die #sarienuwegesig op sosiale media gebruik het, het ‘n groot invloed gehad op wie deel sou wees van die top 30-finaliste. Ek is baie kreatief en dus het ek dadelik begin om video’s te maak en nuwe foto’s te neem vir sosiale media. Ek het ongelukkig later gesien dat daar ‘n paar meisies was wat van my idees gesteel het en dan gebruik het asof hulle dit self gemaak het. Ek was eers moedeloos, want ek het so baie moeite en liefde in hierdie kompetisie ingesit, maar ek het later besef dat ek my kop net hoog moet hou, want wat mens het, kan ander ook kry, maar wie jy is, kan net jy wees. Met al die swaarkry en vrees wat die wêreld in die gesig staar, was dit soms moeilik om positief te bly, maar tog was dit ‘n lekker motivering met al die harde werk tydens aanlyn skool gedurende die inperking. En soos wat mnr. König sal sê: ”Dis baie lekkerder om optimisties te wees oor die lewe.”

Hoe raak ‘n mens betrokke by die Sarie-nuwegesigkompetisie en hoe werk die proses?

Dit is ‘n nuwe kompetisie vir graad 10 tot 12 meisies. Die wenner kry baie blootstelling kry op die digitale blad van Sarie. Meisies wat volgende jaar hiervoor wil inskryf, moet die Sarie-tydskrif dophou vir wanneer inskrywings oopmaak. Mens skryf bloot in op hul webblad en stuur die nodige foto’s. Dan is dit jou verantwoordelikheid om jouself op sosiale media bekend te stel. Daarna word eers 30 finaliste gekies, dan 10 en dan word die wenner aangewys.

Sal jy ooit weer aan so iets deelneem?

Ek sal beslis weer aan so kompetisie deelneem. Ek het dit regtig ongelooflik geniet en deur deel te neem aan soveel as moontlik kompetisies, leer jy ook wat jy graag uit die lewe wil hê. Ek het soveel nuwe vriende ontmoet. Dit is werklik ‘n groot geleentheid en wanneer ‘n geleentheid na jou kant toe kom, moet jy dit met beide hande aangryp.

Het jy enige raad vir iemand wat belangstel om in te skryf?

Moenie jouself onderskat deur jou met ander te vergelyk nie, want dit is juis ons verskille wat ons uniek en mooi maak. As jy enige iets waardevol het om by te dra tot die wêreld, sou dit deur die uitdrukking van jou eie, unieke persoonlikheid weerspieȅl word. Die woorde “Jy is…” is die kragtigste woorde in die Afrikaanse taal. Alles na die woorde ”JY IS” vorm jou lewe. Jy is sterk genoeg, jy is in staat en jy is genoeg. Gryp elke geleentheid met beide hande aan en glo altyd in jouself.

Behalwe vir modelwerk, aan watter ander aktiwiteite neem jy deel?

My eintlike passie en liefde lê by Ruitersport. Ek is ook die kaptein van die Ruitersportspan by die skool. Hierdie jaar ry ek dan ook al vir 12 jaar perd. Ek en my perd, Her Bear Necessities, is ‘n gedugte span en ons het ook al vir 9 agtereenvolgende jare aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir skole deelgeneem.

Wat het jy van hierdie ervaring geleer?

Ek het beslis geleer dat die beste ding in die lewe is om voort te gaan met al jou planne en drome en om elke oomblik te geniet. Om voluit elke dag te lewe is my motto. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie (al leef ons ook nou in die middel van ‘n wêreldwye epidemie), want die toekoms behoort aan diegene wat glo in die mooi van hul drome.

One thought on “Maskers, modelwerk én matriek

  • July 28, 2020 at 7:11 am
    Permalink

    Die fotos van Carami is ongelooflik pragtig. Baie geluk met jou puik prestasie, Carami👏🙌 Baie geluk Aldoné Kok met ‘n puik onderhoud. Jou artikel oor Carami is goed gestruktureer en jou taalvaardigheid kom duidelik na vore 👏🙌

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *