Maskers keer nie die Helpie-gees nie

Chanell Landman

Die Corona-virus-pandemie het nie enige plek in die wêreld onaangeraak gelaat nie. Regoor die aarde word mense in hulle huise met beperkte bewegingsruimte ingeboks. Boonop moet ‘n mens ‘n masker oor jou mond en neus dra as daar ‘n tree buite die hek gegee word. Die Helpies moet saam met die res van die wêreld aan hierdie nuwe kledingstuk gewoond raak.

 

Afriforum berig dat lande in Asië (soos Suid-Korea, Singapoer en Hong Kong) tans beter presteer in die bestuur van die COVID-19-pandemie vergeleke met ander lande. Een van die opmerklike verskille tussen dié lande in Asië en die res van die wêreld is dat die meerderheid mense in Asië in die openbaar maskers dra.

Rieghardt van der Merwe (gr. 12) sê: “Alhoewel gesigmaskers die afgelope paar maande baie belangrik geword het in ons samelewing, gaan dit steeds ‘n groot aanpassing wees. Ek weet dit is net in die beste belang van ons gesondheid, maar dit voel asof jy honderde meters onder grond asemhaal en dit is ook nog ‘n groter uitdaging vir diegene wat ‘n permanente bril dra.”

Elke Helpies moet permanent gesigmaskers, met die uitsondering van etenstye, dra sodra hulle terugkeer skool toe om die Corona-virus in sy voetspore te stuit.

Jenna Beukes (gr. 12) sê: “Ek voel dat dit beter is dat almal dit moet dra, want anders sou die meeste kinders dit dalk nie gedra het nie en die virus verder versprei. Ek dink nie enigiemand hou daarvan nie, maar ons doen ons deel om mekaar te beskerm.”

Nina (gr. 10) en Nikolas Germishuysen (gr. 12) is reg om die virus aan te pak met hulle Helpie-maskers. Foto verskaf

Nina Germishuysen (gr. 10) beskryf haar masker as haar persoonlike soldaat wat die virus beveg. Sy voeg by: “Daar is egter niks so frustrerend soos om nie te kan sien wanneer iemand vir jou glimlag nie, so dis moeilik om mense se emosies te lees.”

Gelukkig glimlag die Helpies van oor tot oor en sal die Helpie-gees, selfs met maskers, aanhou voortleef.

Volg die 5 goue reëls van goeie higiëne om die verspreiding van die koronavirus te keer:

 

1.       Was jou hande gereeld met seep en water vir ten minste 20 sekondes.

2.       Moenie aan jou gesig vat voordat jy nie eers jou hande gewas het nie.

3.       Bly ten minste 1.5 meter weg van ander mense.

4.       Nies en hoes in jou elmboog.

5.       Bly by die huis as jy nie lekker voel nie. En kontak ‘n gesondheidswerker as jy onseker is.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *