Kriekettoer slaan groot suk-“ses”

Jean-Faul la Grange

Reggie Lethbridge (gr.11) (middel) en Ryan Lombaard (gr.12) (regs) saam met twee van die Indië-inwoners tydens die toer. Foto verskaf.

Helpmekaar Kollege se kriekettoer het onlangs in Indië ‘n ses geslaan. Op 2 Desember 2019 het 32 krieketspelers die eerste tree geneem op ‘n toer wat vir lank onthou sal word. Dit was ‘n kultuurskok, tog die ervaring van ‘n leeftyd.

 

“Die doel van die toer was om vir ‘n krieketliefhebber een van die ongelooflikste ondervindings te gee,” sê mnr. Phillip Kemp, een van die afrigters wat die toer meegemaak het. Daar het hulle vyf verskillende plekke besoek, naamlik: Varanasi, Amritsar, Udaipur, Mumbai en Delhi. Elke bestemming was uniek. “My hoogtepunt was die dag toe ons in Amritsar aangekom het,” sê Christiaan Pauer (gr. 11), een van die leerders wat op die toer was. Daar het hulle in “tuk-tuks” geklim en na die Indië-Pakistangrens gery om te sien hoe die trotse nasies hul vlae laat sak. Dit was net een van die vele fenomenale besienswaardighede op die toer.

 

Maar met die tweede grootste populasie ter wêreld (na China) en twee-en-twintig stede wat onder die top dertig mees besoedelde stede val, was Indië ook terselfdertyd ‘n groot uitdaging. “Dit was erg om die eerste paar dae te sien hoe die vuilgoed en feses in die strate lê,” sê mnr. Kemp. Kos was ook ‘n groot uitdaging vir dié sportmanne. Hulle het vir die tydperk geen rooivleis gehad nie. “Ons was nie seker waar die meeste kos vandaan gekom het nie en was maar skepties om dit te eet,” sê Pauer.

 

Ten spyte van hierdie uitdagings het die seuns steeds geen skrik vir vertoon gewys nie. Met oorwinnings teen Champion School (Mumbai) en Yuvraj Sing Academy (Amritsar) onder die verskillende ouderdomsgroepe en imposante individuele prestasies soos Theo van der Merwe (gr. 10) wat 76 lopies gemaak het en Ryan Goërtz (gr. 11) wat 4 paaltjies geneem het teen Yuvraj Sing Academy, is die Helpies se benadering tot hierdie uitdagings opvallend.

 

Daar was egter baie lesse te leer en herinneringe om saam terug te bring. “Die toer was ‘n belewenis. ‘n Life experience wat ek nooit sal vergeet nie. Ons besef nie eintlik hoe bevoorreg ons in ons eie land is voor jy plekke soos Indië gaan besoek nie,” sê mnr. Kemp. “Dankbaarheid” was die enkele woord wat Pauer gebruik het om dit wat hulle teruggebring het van die toer af op te som.

 

Foto: Reggie Lethbridge (gr. 11) (middel) en Ryan Lombaard (gr. 12) (regs) saam twee van die Indië inwoners tydens die toer. Foto verskaf deur Ryan Lombaard (gr. 12)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *