Is dít die noodlot van die matrieks se finale jaar?

Moné Rossouw

 

Vir ‘n matriekleerder van 2020 was president Cyril Ramaphosa se aankondiging op 23 Maart alles behalwe ‘n ‘verlenging van vakansie,’ soos die meeste van die jonger grade dit beskou. Die aanvanklike verligting van ‘n afgestelde eksamen, het gelei tot die realisering van ‘n baie pynlike realiteit…en nou sit hulle agter slot en grendel met die grootste onsekerheid oor dít wat die toekoms alles moontlik inhou.

 

Min het besef dat die afstelling van ‘n eksamen onmiddellik lei tot verminderde blootstelling. In ‘n akademiese opsig lei dit tot verminderde kennis en voorbereiding met die oog op die uiteindelike doel van al die jare se geswoeg: die eindeksamen. Die eerste aanlynklasse, wat aanvanklik geklink het soos ‘n idee byna so absurd soos die uitbraak van ‘n pandemie wat tot wêreldwye stilstand sal lei, het hierdie realiteit net méér konkreet laat word. Daarmee ook die realisering dat hulle moontlik nooit weer vroegoggend hul busbestuurder sal kan groet of die koshuispersoneel bedank vir ‘n warm bord kos voor die Bruin Reus op die Bult betree word nie; dat daar dalk nooit weer die skooluniform met trots op die stoepe gedra kan word, terwyl hulle beleefd vir hul onderwysers kan glimlag, of  dalk  net ‘n drukkie ontvang na ‘n lang dag; dat daar nooit weer tydens pouses ‘n snoepie-broodjie tussen vriende sal gedeel kan word nie, of bloot net op ‘n bus te kan sit en geselsies knoop op pad terug huis toe nie.

 

“Vanaf die dag wat ons as groentjies, met ons verspotte groot brille, kaalvoet die skoolterrein betree het, was die enigste verdowing teen die skreeuende matrieks ons 2020-visie. Die visie van jou laaste saalopening, jou laaste sporttoer, jou laaste kunstefees, jou matriekgraduering en jou pragtige matriekafskeidrok waaroor jy só lank al droom; dít wat jou deur jou hoërskoolloopbaan getrek het, is meteens verander in slegs net ‘n potensiële visie, droom…’n moontlikheid,” sê matrikulant, Lyndré Kruger, oor haar ervaring gedurende hierdie tyd in die grendelstaat.

 

Indien daar die geleentheid gegun word om terug te kan gaan na die ingang op die hoek van Empire- en Mellestraat, sal dit met ‘n nuwe perspektief aanskou word as ‘n voorreg. Hierdie tyd in isolasie het die matrikulante gebring tot ‘n dankbaarheid teenoor die dinge wat dikwels onder normale omstandighede vanselfsprekend aanneem of selfs soms kon beskou as ‘n las. Miné Loubser (gr.12) stel die volgende rakende die moontlikheid dat die res van die jaar in isolasie deurgebring moet word: “Helpmekaar bly ons trots… en dít alleen is genoeg om ons enduit te dra.”

 

One thought on “Is dít die noodlot van die matrieks se finale jaar?

  • June 17, 2020 at 4:07 pm
    Permalink

    Your style is so unique compared to other people I’ve read stuff from. Thank you for posting when you’ve got the opportunity, Guess I will just bookmark this page.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *