Inperking: Meer om te leer as te verloor

Karla Jonker

Aan die einde van 2019 het die Covid-19 virus uitgebreek. Die mensdom het daarvan bewus geword, minwetend dat dit een van die grootste pandemies gaan word wat die wêreld al ooit geken het. Die virus het die lewens van biljoene mense in ‘n oogwink verander.

Tivoli Visser (gr.12)

Alhoewel daar heeltyd oor die negatiewe van die virus gepraat word, is die invloed daarvan op die individu vernuwend! Gedurende die inperkingstydperk besef die mens weer werklik wat dit is om dankbaar te wees. Dankbaar vir alles wat gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar word in die alledaagse lewe, asook alles wat waardeer kan word gedurende die tydperk.

Tivoli Visser (gr.12) vertel dat mens nou die spreekwoord “jy waardeer iets eers wanneer jy dit verloor” ten volle begryp. “Ons is so bevoorreg om na ‘n goeie skool toe te kan gaan, wonderlike onderwysers te hê, merkwaardige vriende en klasmaats te hê en om net oor die algemeen vry te wees! Na die inperking sal ons hierdie goed weer op ‘n ander vlak waardeer,” vertel sy.

“Ek dink God is besig om my terug te roep na die leefwyse wat Hy in gedagte gehad het toe hy die mens geskape het,” vertel Helpmekaar-onderwyseres, Me. Liezel Bach. “Dit is vir my lekker om weer my eie ritme te vind en net die mooi by my huis te waardeer. Watter beter tyd om jouself weer te ontdek as nou? ‘n Tyd met bitter min afleidings, waarin jy jouself kan leer om weer bietjie af te skakel en in die kleiner aspekte van die lewe te verbly,” vertel sy.

Katryn Jacobsz (gr. 8)
Simoné Gerber (gr. 9)

“Die grootste les wat ek deurlopend in die grendeltydperk leer, is dat die lewe oor meer as jou daaglikse roetine gaan,” sê Katryn Jacobsz (gr. 8). As wesens wat so afhanklik is van roetine, is dit maklik om deur die lewe te loop, slegs met die doel om by hierdie prosedure te hou. Die grendeltydperk bring mens net weer tot die besef dat daar soveel meer tot die lewe is. Hoop gaan gepaard met hierdie ontdekking en herinner ons net weer dat mens ‘n toekoms moet beplan wat losbreek van roetine. Of dit nou verhuising of ‘n koffie-afspraak saam met jou hartsmense is. “Ek het geleer dat mens nooit kosbare tyd as vanselfsprekend  moet neem nie en dat ons moet aanhou hoop en glo,” sê  Simoné Gerber (gr. 9).

Nog ‘n positiewe van die inperkingstydperk is dat mens ook net weer van jou voorregte bewus word.

Jean Mouton (gr. 11)

“Ek is werklik dankbaar vir die dak oor my kop, die bed waarin ek slaap en die kos op ons tafel elke dag. Dit klink dalk voor die hand liggend, maar daar is baie Suid-Afrikaners wat nie hierdie voorreg het nie en wat baie swaarkry gedurende hierdie tydperk,” merk Jean Mouton (gr. 11) op. Mnr. Thomas Hayes, ‘n Helpmekaar-onderwyser, vertel wat hy positief beleef: “Dis ook goed om weer te besef dat ons, as Suid-Afrikaanse nasie, kan saamstaan deur ‘n moeilike tydprek en die regte besluite neem.”

Motlatsi Moloi (gr. 8)

“Ek, vir een, is dankbaar vir tegnologie wat ons toelaat om steeds met ons vriende ‘n ‘aanlyn-kuiertjie’ te kan hou!” sê Motlatsi Moloi (gr. 8). Al ontdek jy jouself weer, vind jy ook allerhande nuwe maniere om met jou naastes te kommunikeer. “Ek geniet dit ook om baie nuwe vaardighede aan te leer en natuurlik sou ek nie grendeltyd sonder my gesin kon oorleef nie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *