HOU BY DIE TYE

 

In 2016 was ons ontgroeningstema “2020-visie”. As graad-8 leerling, moes ek myself indink oor hoe my matriekjaar, 2020, sou lyk.

Ek het ‘n rooskleurige prentjie van diĆ© jaar in gedagte gehad. In 2020 sou alles perfek wees. Tog het geen van my verwagtinge gerealiseer nie. Die Covid-19-virus soek skoor, Suid-Afrika se ekonomie struikel en Eskom sukkel om die ligte aan te hou. Ek sou myself nie as ‘n optimis beskryf nie, maar daar was ‘n bekoring daarin om die toekoms te idealiseer.

Die probleem is egter dat die volmaakte beeld wat dikwels van die toekoms geskets word, onrealisties is. Ons hoor dikwels stories van hoe tegnologiese ontwikkeling en innovasie ons lewens sal verbeter, maar armoede, ongelykheid en misdaad vererger. Die toekoms sal nie rooskleurig wees indien ons nie ons huidige probleme oplos nie. Ek is dus van mening dat ons by die tye moet hou – lees die nuus, bly ingelig en soek na oplossings. Dit is ons enigste uitkomkans.

In die Maart-uitgawe van die Helpie Flitse sal jy juis met die kwessies van die toekoms gekonfronteer word: Hoe leef ons groener? Hoe lyk die toekoms van Afrikaans? Hoe berei ek my voor op die toekomstige werksomgewing? By Helpmekaar streef ons altyd na positiewe vooruitgang – wees dus voorbereid, liewe Helpie, want jy is die katalisator.

ANJA STEYN

Nuusredakteur

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *