Helpmekaar se stukkie goud

Die Goldenboys van 2019/2020 sing ingehak vir die laaste keer hul kreet. Foto: Manise Hattingh

Deur Cara Kotzé

“Die opwinding wat elke Goldenboy ervaar voor ‘n optrede is ongelooflik! Die energie tussen die ouens is dinamies: ‘n Laaste opstoot word gedoen om te verseker dat elke spier geoefen is, aanmoedigende en opbouende woorde word tussen mekaar uitgedeel, en die laaste bietjie goud word geverf. Dan is ons reg: die kleed word oor ons koppe getrek, en daar is nie meer enige twyfel nie. Nou dans ons!” Só beskryf Lodewyk Willemse, Goldenboy van 2019/2020, die laaste oomblikke voor hy en sy 14 mede-Goldenboys in die kollig verskyn.

Elke jaar word vyftien graad 10-seuns gekies om die Goldenboys vir die volgende jaar te wees. Met geen spesifieke kriteria om aan te voldoen nie, is elke jaar se groep ‘n verrassing vir die skool én vir die vyftien seuns.

Die Goldenboys speel ‘n integrale rol in geesbou by Helpmekaar. Hulle belangrikheid by atletiekbyeenkomste, geesvang, feeste of sommer enige vieringe by Helpmekaar word nie betwyfel nie, maar oor die oorsprong van hierdie besonderse tradisie word daar egter bespiegel.

Me. Mia Roberts, taalonderwyseres en oud-Helpie, vertel hoe hierdie goue tradisie gevorm het: “Aan die einde van 2007 was daar ‘n groep van vyftien gr. 10-seuns wat detensie moes sit omdat hul moeilikheid op die skoolterrein aangevang het. Ná hulle deur mnr. Klaus König gevang is, het ‘n charismatiese graad 10 gaan pleit vir versagting op die straf wat wag. Ná verdere onderhandeling is daar op ‘n ooreenkoms besluit: hierdie groep kan hulle eie, gepaste straf uitdink. Binnekort het hierdie vyftien goudgeverfdes voor die skool verskyn, en ‘n uitgewerkte danspassie opgevoer.” Só het die Goldenboys begin: ‘n versagte detensie vir vyftien moeilikheidmakers.

Me. Roberts vertel verder: “Natuurlik was die skool mal daaroor, en op die ou end is daar besluit dat hulle weer moet optree. Die skool het aanhou aandring dat hul moes optree en so het ‘n nuwe tradisie uiteindelik ontstaan.” En vandag, 13 jaar later, duur die tradisie voort.

Vanjaar word die tradisie van een groep na die volgende oorhandig met groot trots en goue bloed wat deur hulle are pomp. Met Helpmekaar se 100 jaar-viering is die groep van 2020/2021 opgewonde vir hul tyd in die kollig. Ruben Haasbroek (gr. 10) sê: “Ek sien uit vir dit wat voorlê, veral ná ons eerste dans wat binne vyf minute ná die aankondiging van die nuwe Goldenboys uitwerk is. Die energie waarmee dit uitgevoer is met die 14 ouens langs my, was onvergeetlik.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *