Helpmekaar behou sy plek in die son

Anja Steyn

Super Interhoër span die kroon op ‘n atletiekseisoen gekenmerk deur harde werk, opofferings en deursettingsvermoë. Foto deur Zoë Marais.

Op 26 Februarie 2020 het die Helpies aan die jaarlikse super-interhoër te Ruimsig-stadion deelgeneem. Helpmekaar het weereens as wenners uit die stryd getree met ‘n oorwinning van 108 punte oor Prestige Kollege.

 

Martin du Preez, atletiekkaptein, is van mening dat die rede waarom Helpmekaar in 2020 goed presteer het, te danke is aan die feit dat die atlete nie net ‘n span is nie, “maar ‘n Helpie-familie waar almal saam werk tot een doel.” Hy sê verder dat hy trots is op die atlete wat hul “alles gegee het.”

 

In die seunsafdeling het die Afrikaanse Hoër Seunskool die oorhand oor die Helpies gekry. Helpmekaar is as naaswenners aangewys met ‘n puntetotaal van 354 teenoor Affies se 402. Alhoewel Affies met die louere weggestap het, het Helpmekaar tog in hierdie afdeling opslae gemaak. Juan Oosthuysen (gr. 12) het eersteplekke in die diskus en gewigstoot behaal, terwyl Armand van der Walt (gr. 9) ‘n nuwe rekord in die 100m-naelloop opgestel het.

 

In die dogtersfdeling moes Helpmekaar die knie buig voor die Afrikaanse Hoër Meisieskool. Affies het die Helpies hier met ‘n skrale 15 punte geklop. In hierdie afdeling het die junior Helpie-atlete indrukwekkende prestasies behaal. Mignonne de Beer (gr. 8) het ‘n splinternuwe rekord van 5m 27cm in die O.14-verspring opgestel. Sy sê die “ongelooflike ondersteuning van die skool” het haar haar geïnspireer om “vinniger te hardloop en verder te spring.” Hannah van Niekerk (gr. 9) is verder as die Junior Victrix Ludorum aangewys met haar eerste plekke in die 200m naelloop en 300m-hekkies. Me Louise Hattingh, spanbestuurder, skryf hierdie puik uitslae toe aan die “samehorigheid en gees” van die Helpies wat ondersteun het.

 

Nicole Fourie, dirigent, beskryf die gees onder die Helpie-ondersteuners as iets wat sy “nooit, ooit sal vergeet nie.” Sy voeg verder by dat die skool se gees vir ‘n paar hoendervleis-oomblikke gesorg het.

 

In 2017 en 2018 kon Helpmekaar dit nie regkry om die wennerstrofee van die A-Bond omhoog te hou nie, maar het in 2019 weer as wenner verrys. Hierdie jaar kon die skool voortbou op 2019 se prestasies en die gaping tussen eerste- en tweede plek vergroot.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *