Helpies ry sit-sit so…

Busry. Iets wat deel is van die Helpie-kultuur aangesien dit deeluit maak van die meeste Helpies se daaglikse roetine. Daar is daagliks busse wat op roetes, in al die windrigtings, vertrek om die Helpies te karwei. Alhoewel die Helpie-ketting nooit breek nie, is daar wel kompetisie tussen die areas waar die Helpies vandaan kom. Die Noorde, Ooste, Suide en Weste is vier woorde wat dikwels wedywering onder die Helpies uitlok. Die matrieks van die bus: Vasvat (Oosrand – Bedfordview, Boksburg, Benoni), deel ‘n bietjie van hulle daaglikse buservarings:

Dit is waar dat daar konflik en kompetisie tussen busse – of windrigtings – is. “Die Wesrand-bus het ‘n das voor in hulle bus gehang wat gesê het: Wesrand. Die Oosrand bus het die das gaan steel, die woorde toegeverf, Oosrand daarop geskryf en dit weer teruggehang,”vertel Monique Prinsloo. “Tydens graad 8-ontgroening  moet die graad 8’s dikwels hulle windrigting, bv. ”Suide Bo”, skree as ons by die skool inry.” So word die kompetisie-kultuur al van vroeg af aan die nuwe graad 8’s uitgewys.

Daar is baie om te doen op die bus, soos huiswerk, geselsies aanknoop, musiek luister en daardie laaste bietjie leer. “Ek sal dit nie bo busry verkies om saam met my ouers skool toe te ry nie, aangesien niks die sielkunde-sessies en snaakse oomblikke sal kan vervang nie,” sê Mia Louw. Op ‘n daaglikse basis gebeur daar baie amusante dinge op die bus. “Toe ons in graad 9 was en ons nog op ons vorige, kleiner bus, Knuppeldik, gery het, het Wiané een middag amper by die bus se deur uitgeval. Sy het by die deur gestaan en met ons, wat voor in die bus gesit het, gesels. Ons het by die skool se hek uitgedraai toe die deur oopgaan en sy moes skielik klou vir haar lewe. Daar het ‘n paar tasse uitgeval, maar sy het darem veilig in die bus gebly. Van daar af het ons die bus mooi gesluit en ‘n noodsaaklike reël ingestel dat jy in die bus moet sit,” vertel Cameron Sharp.

Delani de Jager deel ook haar snaaksste buservaring: “Toe ek in graad 8 was, was daar ‘n senior op die bus met die naam Zack. Ek het een oggend in die bus geklim en Zack, snoesig in ‘n kombers toegedraai, besig om te slaap, in die bus se oorhoofse kompartement gesien. Dit is ‘n herinnering wat ek nooit sal vergeet nie.” Die gesprekke op die bus raak dikwels interessant aangesien die Helpies heel gewillig is om oor allerhande onderwerpe te gesels. “Daar was verlede jaar ‘n debat op die bus oor of water wat nat of droog is. Heel waarskynlik as gevolg van iets wat een van die Fisiese Wetenskap-onderwysers gesê het,”sê Mizanderlé Kleinsmith.

Die Meeste van die matrieks is al op hierdie bus van graad 8 af en volgens hulle het daar ook al baie op die bus verander in hierdie tydperk. “Ons as matrieks het ‘n hegter vriendskap gebou en geleer om ons bustyd meer effektief te benut,” vertel Wiané Bruwer. Daar het ook oor die jare sekere gewoontes op die bus gevorm: “Ruan het ‘n gewoonte om elke Vrydag sy luidspreker te bring en vir ons musiek te speel. Daarsonder is ‘n Vrydag nie Vrydag nie,” deel Dané Jacobs.

Busry is ‘n spesiale gedeelte van’n Helpie se dag, ‘n goeie manier om die dag mee te begin en af te sluit. Viva busry!

Die matrieks wat op Vasvat ry het ‘n hegte band gevorm. Van links na regs is hulle: Wiané Bruwer, Dané Jacobs, Mia Louw, Ruan Gerber, Delani de Jager en Monique Prinsloo. Foto geneem deur Cameron Sharp.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *