Helpies pronk (aanlyn) met kultuurtalent

Chanté du Preez

Die Helpmekaar-kultuuraand het op ’n ietwat anderste manier lafenis vir die siel gebied tydens die Covid-19-grendeltyd. Met besonderse sang, instrumentale musiek, drama en die kunsstudente se kreatiewe grendeltyd-tydverdrywe is die gehoor aanlyn vermaak in die gemak van hulle huise. Mnr. Ruan Coetzer and me. Gabrielle Forssman was die propvol Kultuuraand se seremoniemeesters.

Ansie du Plessis (gr. 9) en Robin du Plessis (gr. 12) geniet die Kultuuraand tuis. Foto verskaf.

Met ’n tikkie nostalgie, humor en musiek het die kultuurleerders gewys kultuuraktiwiteite ontwikkel ’n positiewe selfbeeld en selfvertroue. Selfs oumas en oupas het die aanlyn-aand bygewoon. ’n Hoogtepunt was beslis die onderwysers met mnr. Peter McLea se kreatiewe verwerking van “We all stand together”. Volgens me. Anja Scheepers was die aanlyn-opvoering vir haar ’n aangename ervaring, maar totaal buite haar gemaksone. Sy sê sy is ’n groepsanger en beslis nie gemaklik daarmee om ’n solis te wees nie. Sy is wel bly dat sy die uitdaging aanvaar het en sal dit enige tyd weer doen.

Daar is net een Jak de Priester.  Dié Sally Willams-sanger is al 18 jaar in die musiekbedryf. Foto Facebook.

Die koor met hulle spliternuwe musiekvideo, deur Joe Engel en Xtreme Productions, het elke lid van die Helpie-familie se hart warm laat klop. Net om behoorlik die kersie op die koek te sit, het Jak de Priester as gaskunstenaar ook ’n aanlyndraai gemaak.

Jenna en Tessa Volchenk (gr. 9) het die aanlyngehoor bekoor met When you believe. Foto verskaf.

Die besonderse aand is afgesluit met die liedjie “When you believe”. Die soliste, Jenna en Tessa Volchenk (gr. 9), het hulle goed van hul taak gekwyt. Volgens die tweeling was dit vir hulle ongelooflik om te sien hoe mense bymekaar kom deur musiek.

Hoofgrafika: Christiaan Brand

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *