Helpie-skoonheid is ’n Sarie Nuwe Gesig-finalis

Jana Mackridge (gr. 12) is ’n finalis in die Sarie Nuwe Gesig-kompetisie. Foto verskaf. 

Cara Kotze

Jana Mackridge (gr. 12) is op 1 Julie aangewys as een van die Top 30-Sarie Nuwe Gesig-finaliste, waar een van die finaliste die kans staan om die voorbladgesig vir ‘n uitgawe van Sarie te wees.

Mackridge sê dat sy op die dag wat inskrywings oopgemaak het al ingeskryf het. “Ek was so opgewonde om te sien hoe die kompetisie sal verloop en dit het veroorsaak dat ek onmiddellik ingeskryf het.”

Mackridge doen al modelwerk vanaf 13-jarige ouderdom, maar het meer kompeterend begin deelneem toe sy in die hoërskool kom. Tans is sy ’n model vir die modelagentskap Alushi.“Omdat ek al vir so lank modelwerk doen, het ek dit goedgedink om in te skryf vir Sarie Nuwe Gesig, omdat die modelwerk my juis vir hierdie tipe kompetisies voorberei het. Ek het net gedink, ongeag die uistslag, het ek niks om te verloor deur net in te skryf nie.”

Mackridge sê dat sy verbaas was om haar naam op die finalistelys te sien. “Ek was nie presies seker hoe laat op 1 Julie die uitslae aangekondig sou word nie, so toe my ma, baie opgewonde, die nuus aan my meegedeel het, moes ek eers self na die uitslae gaan kyk om te glo wat ek hoor!”

Mackridge spreek haar dankbaarheid uit oor al die ondersteuning wat sy gehad het: “My vriende en familie het seker gemaak om te stem en ek is so geseënd met hulle. Ek is ook dankbaar vir Helpmekaar en vir elkeen wat gestem of ‘n gelukwensing gestuur het.”

Maak seker om uit te kyk vir die top 10-finaliste wat in Sarie se Augustus-uitgawe aangekondig word. Kyk uit vir dié uitgawe op 20 Julie! Die aankondiging van die wenner sal op 21 Augustus in Sarie se September-uitgawe sowel as aanlyn op Sarie.com bekend gemaak word.

Hoofgrafika: Christiaan Brand

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *