Groete en verlange vanuit Sydney

Hooffoto: Die pragtige Sydney-hawe en die bekende Operahuis (Foto’s: iStockphoto • Grafika: Christiaan Brand). Foto links bo: Me. Karin Prinsloo en haar man, Hennie Prinsloo, voor die Sydney Operahuis. Regs bo: Me. Karin Prinsloo loop byna oral, sy bly 4 km weg van die Syndey Operahuis. (Foto’s verskaf)

 

Me Karin Prinsloo was een van Helpmekaar Kollege se geliefde Duitse onderwyseresse. Sy en haar man het aan die einde van 2019 na Australië verhuis. Anika de Beer gesels met haar oor haar lewe aan die ander kant van die wêreld en hoe COVID-19 haar lewe beïnvloed het. 

V: Wat het julle laat besluit om die groot trek oorsee te maak?

A: Die geleentheid om Australië toe te trek, het skielik oor ons pad gekom. My man het ‘n pos by Deloitte in Sydney gekry en ons moes vinnig besluit of ons die groot skuif wou maak. Ons het besluit om hierdie nuwe avontuur ‘n kans te gee en het binne ‘n paar maande alles opgepak, weggegee en verkoop en die groot trek oor die water aangedurf.

V: Wat doen Juffrou om jouself besig te hou in Australië noudat dit die COVID-19-pandemie is?

A: Omtrent ‘n maand nadat ons in Sydney aangekom het, in Maart, het COVID-19 hier in Australië begin ernstig raak. Daar was dus nie baie tyd om ons nuwe tuiste ordentlik te verken nie, maar aanvanklik het ek verskillende strande en swembaddends besoek en probeer om soveel moontlik van die mooi natuur te beleef. Ons het ook baie bordspeletjies gespeel, gaan stap en ek het ‘n paar boeke gelees. Ons reëls is darem nou al baie verslap en byna alles is weer oop met beperking op die aantal mense in publieke areas. Ons dra nie maskers nie en gimnasiums, restaurante, kroeë, strande en publieke parke is weer oop vir besoekers.

V: Is Juffrou tans besig om onderwys te gee?

A: Covid het dit aanvanklik moeilik gemaak om ‘n pos by ‘n skool te kry en ek moes maar ’n ander plan maak om myself besig te hou. Toe die inperking hier begin, het ek besluit om aanlyn ‘n TEFL (Teach English as a Foreign Language)-kursus te doen. Dit is die tipe kursus wat mens moet voltooi om in die Ooste Engels te gee. Ek gee tans aanlyn Engels by ‘n maatskappy wat in Taiwan geleë is en dit is sover baie interessant! Ek gee 45 minuut-klasse vir alle ouderdomme en die temas wissel met elke les. Dit is uitdagend om so vining aan te pas by die verskillende vlakke van Engels en om al die verskillende temas op ‘n interessante manier aan te bied, maar ek geniet dit om soms met my pantoffels en sweetpakbroek te kan werk (al love ek steeds my serpies en opdress outfits).

V: Hoe verskil die Suid Afrikaanse en Australiese skoolstelsels in terme van wanneer kinders terug mag gaan skool toe en is daar “aanlyn” skool?

A: Die Australiese skole het oopgebly tot die April-vakansie en het toe ‘n ekstra week of twee gesluit gebly voordat hulle weer oopgemaak het. Elke staat in Australië volg ander reëls, maar die meeste skole het vining weer oopgemaak, met die nodige voorsorgmaaatreëls in plek natuurlik. Daar was sommige skole wat aanlynklasse gehad het, maar dit was nie so nodig nie, aangesien baie skole nie baie klastyd gemis het nie.

V: Hoe dink Juffrou het Australië die pandemie hanteer?

A: Australië het die pandemie goed hanteer en dit is duidelik dat hulle veral klein besighede soos koffiewinkels wou ondersteun. Ons kon byvoorbeeld tydens die strengste tyd steeds buite gaan oefen, steeds by ons gunstelingkoffiewinkel wegneemkoffie gaan koop en steeds kos bestel, omdat dit as noodsaaklik gesien is. Ons stap winkels toe en het tydens hierdie tyd graag gaan stap vir koffie of inkopies om uit die huis te kom.

V: Sal julle dit oorweeg om terug te keer na Suid-Afrika?

A: Op hierdie stadium is dit moeilik om te sê. Ek dink mens moet ten minste twee jaar in ‘n nuwe land bly om gemaklik te raak en ‘n regverdige besluit te neem. Ons het glad nie Suid-Afrika agtergelaat met negatiewe of slegte gevoelens nie en ek is baie lief vir Suid-Afrika, maar ons lewe sover baie lekker in Sydney en geniet die leefstyl baie.

V: Wat is die grootste verskil tussen die grendeltyd in Suid-Afrika en Australië?

A: In Australië het ons nooit maskers gedra nie, ons kon altyd buite gaan oefen op enige tyd van die dag, ons kon van vroeg in die grendeltyd al by vriende gaan kuier (in klein groepies), restaurante en koffiewinkels was altyd oop vir wegneem-opsies of Ubereats-bestellings en drankwinkels het oopgebly. Klerewinkels was wel vir ‘n hele rukkie toe, maar ons kon aanlyn klere koop en laat aflewer.

V: Wat geniet Juffrou die meeste van Australië?

A: Ek geniet die feit dat ek oral heen kan stap. Ons bly seker so 4 km van die Sydney Operahuis af, so ons is baie sentraal geleë. As ek wil gaan kyk wat nuut is op Zara se rakke of by my vriendin, wat ook naby bly, wil gaan inloer, dan stap ek maklik soontoe. As ek bietjie verder wil gaan, vat ek die trein of die bus. Ek geniet dit ook dat Sydney ‘n baie kosmopolitaanse stad is. Daar is kulture en mense van oral oor die wêreld en ons voel nie soos buitelanders nie – ons pas mooi in. Ek LOVE die klerewinkels, hier is so baie en sulke mooi goed. Ek is ook mal oor die strande en die natuurskoon en die feit dat ek op ‘n bus kan klim en Bondi Beach toe ry of een van die ander strande kan besoek. Tim Tams en Maxibon-roomyse is ook ‘n bonus!

V: Laaste maar nie die minste nie, wat mis Juffrou die meeste van Suid-Afrika?

A:Ek mis net die MENSE. My familie, my vriende en al die Helpies. Ek was baie bevoorreg om by Helpmekaar te kon werk en ek verlang regtig baie na julle (ek is bietjie bang vir die Australiese tieners en ek dink nie hulle gaan my so lekker verstaan soos julle nie).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *