Groen ambassadeur woeker in Helpies se midde

Foto geneem deur Cameron Sharp.

Met ‘n passie vir die aarde se gesondheid, is dit geen verrassing dat Cara Gouws (gr. 12), die geleentheid om by die skool se Groenprojek aan te sluit, met albei hande aangegryp het nie.

Dit is duidelik dat die welstand van ons planeet jou na aan die hart lê. Waar kom hierdie passie vandaan?

Dit was nog altyd net ‘n leefstyl wat my familie, veral my ma, my geleer het. Ek is van kleintyd af bewusgemaak om byvoorbeeld ligte af te skakel. Herwinning is soos tweede natuur vir my. Ons het ook nog altyd ons waterverbruik so laag as moontlik gehou.

Dit het later in jou lewe ook wyer begin uitkring as net in jou gesin. Vertel my bietjie meer oor jou betrokkenheid by die Johannesburg se opruimingsprojek.

Die beweging se naam is A Re Sebetseng wat beteken “Kom ons werk”. Dit is ‘n inisiatief wat mense wil aanmoedig om die derde Saterdag van elke maand in die stad skoon te maak. My familie en ‘n paar ander mense het aanvanklik op Empireweg rommel opgetel en onkruid uit die sypaadjies getrek. Die projek het vlamgevat en uiteindelik na ons kerk toe verskuif.  Elke maand maak ons en lede van die kerk daar skoon.

Die meeste tieners sal eerder voor die TV lê as om ‘n Saterdag vir so-iets op te offer. Wat sal jy graag wil hê moet verander by die skool?

Nie almal hoef by groot projekte betrokke te raak nie. Ons wil graag die skool net meer bewus maak.  Indien ‘n duisend kinders klein veranderinge in hul leefstyl maak en dit aan hulle maats en families oordra, gaan dit saam ‘n groot verskil maak.

Jy is ook deel van die Groenprojek by die skool. Die Eco-brick is die eerste, opwindende fase van julle projek. Waar kom die inspirasie daarvoor vandaan?

Ons gesin het met die Eco-brick-projek tuis begin, nadat my suster universiteit toe is. Haar kamermaat het haar daarvan vertel. Ons het besluit ons wil dit ook begin doen en toe kry dit skielik momentum. Ons het later so baie Eco-bricks gehad dat ons vir ons helper, Irene, ‘n huis daaruit in Hammanskraal gebou het.

Raak jy ooit moedeloos en voel dat die insette wat julle lewer tevergeefs is?

Ek raak baie omgekrap as ek sien hoe mense rommel aanhou strooi. Ek is nog altyd geleer dat dit doodeenvoudig onaanvaarbaar is. Maar dit maak my vreeslik bly as ek sien hoe mense omgee. Daar is baie mense wat wel herwinningsinisiatiewe ondersteun en poog om hulle deel te doen. Ek dink ook al hoe meer mense raak betrokke. Ons insette is beslis nie tevergeefs nie.

Die Eco-bricks het vinnig begin ophoop. Helpies se Groenprojek volg spoedig in hul groen spore. Foto verskaf deur Cara Gouws.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *