Grapjas Schalk Bezuidenhout laat hom allermins inperk

Cara Kotze

Hooffoto: schalkbezuidenhout.com • Foto: iStockphoto.com 

Schalk Bezuidenhout, Suid-Afrikaanse komediant en akteur, vertel vanuit ‘n dankbare hart wat die inperkingstyd vir hom as kunstenaar gebied het, en die voordeel daarvan om meer tyd op ‘n mens se hande te hê.

Bezuidenhout is gebore en getoëin Kempton Park. Hy het sy hoërskoolloopbaan voltooi by Hoërskool Jeugland en het daarna sy BA Drama-graad aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Ná ‘n paar jaar in Groenpunt het Bezuidenhout en sy verloofde, Mica McKechnie, opgetrek na Johannesburg waar hulle tans in Linden woon. Aan die einde van Junie gaan hulle in ‘n plekkie, met ‘n kaggel, (“net om bietjie meer grootmens te voel”) in Craighall Park intrek.

Bezuidenhout vertel oor sy dankbaarheid vir die afsonderingstydperk in Suid-Afrika en vir die roetine wat dit in sy lewe gevorm het: “As ‘n komediant en vryskutwerker is daar nie regtig ‘n vaste roetine in my lewe nie, behalwe as ek besig is om te skryf en te skiet aan Die Ware Naarheid met Schalk Bezuidenhout. Dan moet ek vroegoggend by die kantoor wees. Andersins is ‘n week tipies oorlaai met optredes en die daaropvolgende week het byna geen verpligtinge nie. Snaaks genoeg is dit in die inperking wat my dae begin roetine kry het.”

As ‘n kunstenaar gedurende ‘n pandemie, wat onbepaald voortduur, hou hierdie tydperk baie onsekerheid in, maar Bezuidenhout laat hom nie onderkry nie. “My werk bly dieselfde, ek bly ‘n komediant, ek moet net ander mediums kry waarop ek met my gehoor kan kommunikeer en waar ek kan opvoer. Dit het net weer eens vir my gewys hoe belangrik dit is om met die tye aan te pas, of jy daarvan hou of nie.”

Volgens Bezuidenhout was die grootste teleurstelling van sy lewe toe hy nie in sy eerste jaar ingekom het by die Theatre and Performance, die dramakursus, waar hy wou studeer nie. “Dit was my grootste teleurstelling, maar in daardie jaar het ek begin met komedie, iets wat ek nie sou doen as ek gedurende daardie jaar gaan studeer het nie. Ek sou nie nou ‘n komediant gewees het as ek onmiddellik keuring gekry het nie en ironies genoeg, ook nie ‘n suksesvolle akteur nie. Al die rolle wat ek aangebied is vir films, het ek gekry omdat ek bekend is as ‘n komediant. Ek is weer herinner dat alles vir ‘n rede gebeur,” vertel Bezuidenhout.

Gedurende die pandemie het Bezuidenhout daagliks ‘n agt minuut-video op sy Instagram- en Facebookblaaie geplaas, wat handel oor enigiets van Covid-regulasies tot sy kinderlewe. “Dit is redelik maklik om dinge te kry om oor te gesels, omdat daar nou so baie is om mee te werk. Ek dink in hierdie tyd ontdek ons maar net ander mediums om dit wat ons nog heeltyd doen, steeds moontlik te maak.”

Bezuidenhout se raad, veral aan die jonger generasies, is om kreatief te wees met hierdie oorvloed tyd wat ewe skielik tot ons beskikking is. “Gebruik jou tyd om kreatief te wees. Jy kan ongelooflike dinge doen as jy jou tyd reg benut, want wie weet wat hier uit kan kom. Dit is ongekende tye, so maak seker jy kry iets waardevol hieruit.”

Cara skype met Schalk Bezuidenhout. (Foto verskaf)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *