Glinster en glans op jou eie silwer skerm

Megan Saaiman

Daar is baie dinge by Helpmekaar aan die gang, maar een van die Helpies se gunstelinge is die sprankelende Beauty and the Beast-kompetisie. Elke jaar skryf die Helpies hul eie sprokie, met nuwe karakters, uitdagings en natuurlik ‘n gelukkige einde.

Hierdie jaar se uitdaging was die al-te-bekende Korona-virus, wat gelei het tot ‘n Beauty and the Beast wat geskiedenis gemaak het. Beauty and the Beast 2020 was vir die eerste keer regstreeks uitgesaai en was op 16 April 2020 op DigiTV te sien. In tradisionele Helpie-styl was die kykersyfer oorweldigend en moes daar ‘n paar vinnige tegniese aanpassings gemaak word om almal te akkommodeer, maar dit is vinnig uitgestryk en het bygedra tot die afwagting van elke deelnemer, beoordelaar en Helpie-ondersteuner.

Die karakters van die Beauty and the Beast 2020-verhaal was Beth Grosskopf, Jason Amiras, Emma Dirks, Ruben Eksteen, Isabella Venter, Wijon Buskes, Simóne Shirley, Nathan Raath, Amor Oosthuizen, Ewald Claassens, Mone Rossouw, Nathan Lanis, Nadia van Niekerk, Ryan Coetzee, Mine Loubsher, Keune Kirkham, Lara Greyling en Johan Claassens.

Hierdie Helpie-karakters moes vanjaar jaar die tema #Helpie vir die kompetisie uitbeeld. Eerste op die program moes die paartjies ‘n paartjie-dans doen wat baie kreatiwiteit geverg het, omdat hulle nie eintlik met mekaar kon dans nie. Elke paartjie se inskrywing is gedoen deur hulle onderskeie dansvideos te maak en dan as paartjie saam te sit vir die uitsending. Hulle moes ook elkeen ‘n video maak waar hulle iets uitbeeld wat hulle tydens die inperkingstyd geleer het. Laastens moes almal deelneem aan die direkte uitsending van die finale vraag-en-antwoord-sessie, sodat almal die sprokiekarakters beter kon leer ken.

Ná ‘n aand van virtuele fantasie en vermaak, breek die oomblik uiteindelik aan om die resultate aan te kondig. Bekende sterre uit die mode en vermaaklikheidswêreld, Deanré Reiners, Meghan Phillips en Simoné Pretorius, dien as beoordelaars vir die glansryke geleentheid. Hierdie jaar is die Helpies ook die geleentheid gegee om aanlyn vir die Beauty and the Beast te stem.

Mejuffrou Persoonlikheid is aan Mine Loubsher toegeken en Meneer Persoonlikheid aan Nathan Raath. ‘n Nuwe toekenning, “Fan Favourite”, is spesiaal vir hierdie jaar se Beauty and the Beast geskep, waarvoor die Helpies kon stem. Simóne Shirley en Nathan Raath het hierdie toekennnings opgeraap. 2de prinses en prins is Mine Loubsher en Ewald Claassens en 1ste prinses en prins is Mone Rossouw en Nathan Lanis. Die meisie met die mooiste hart en bloedrooi lipstiffie, Simóne Shirley, is as Beauty gekroon en die Beast, met sy ritme en potblou oë, is Ruben Eksteen.

Ruben sê: “Ek het ‘n paar goed geleer, maar die belangrikste was dat ek definitief geleer het hoe om uit die boks te dink omdat daar baie dinge was wat anders was as in die vorige jare se Beauty and the Beast.”

Ruben Esteen, Beast 2020 (Foto: verskaf)

Simóne Shirley, Beauty 2020 (Foto: verskaf)

Simóne sê: “Ek dink dat dit belangrik was om Beauty and the Beast vir Helpmekaar te doen en vir die leerders iets te kon gee wat hulle kon geniet. Dit gaan nie eintlik oor jouself nie, maar oor hoe jy vir ander mense geluk kan bring en daardeur self ook geluk vind.”

“Mnr. König wou vir die Helpies iets gee om hulle gemoed te lig in die tyd van inperking. Hy het gevoel dat Beauty and the Beast, al is dit in ‘n ander formaat, die Helpies iets gee om weer die “magic” van Helpmekaar by die huis te kan beleef,” sê hoof-organiseerder me. Adele Dickens.

Hoof-organiseerder, me. Annemarie Venter, sê: “Ek dink dit was ‘n baie goeie initiatief, net om weer die Helpies bymekaar te bring, want dit het definitief vir die Helpies hoop gegee.”

Op ’n aand soos Beauty and the Beast word die talent van Helpmekaar op verskeie vlakke gewys. Hierdie jaar is honderde mense die aanlyn geleentheid gegee om deel te wees van ons nuwe sprokiesverhaal, waarin die Helpie-magic selfs in die donkerste dele van die storie vir almal weer kon hoop gee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *