Flinkdinkers stoei dit uit

Nina Germishuysen

Die beperkings van die inperking kon Helpmekaar Kollege nie van stryk bring vir die jaarlikse Algemenekennisvasvra nie. Inteendeel is die geleentheid op Vrydag 22 Mei in besondere styl op Facebook uitgesaai. Me. Linda van Niekerk en haar span het getoor met décor en die skoolsaal omskep in ‘n wafferse TV-ateljee.

Volgens me. Van Niekerk was die grootste uitdaging om die tegniese aspekte onder die knie te kry.  Alle deelnemers moes weet hoe om hul skerm horisontaal te stel en self hul benaming op die skerm te verstel. “Dit was ‘n heerlike ervaring om Vrydag terug te sit en die kinders se deelname te waardeer.”  Hierdie aanlynervaring is ‘n nuutjie vir Helpmekaar Kollege, maar volgens me. Van Niekerk sal daar beslis meer van die aanlynformaat in die toekoms te siene wees: “Die Kultuuraand en dalk selfs die Produksie kan moontlik in 2020 aanlyn volg.”

Die gewilde sanger, Jak de Priester, was die gaskunstenaar vir die geleentheid. Buiten bekende liedjies soos Sally Williams Nougat het hy kykers bederf met ‘n spesiale komposisie vir die inperkingstyd, genaamd 21 dae kwarantyn. Sy liedjie Binnelanders het hy opgedra aan al die dapper mediese personeel wat onverpoosd hulle lewens vir ander in gevaar stel.

Die aanbieders, mnr. Marnus Grobler en mnr. Louis Botha, wat aanvanklik getoë was in Helpie-gesigsmaskers, het ewe tuis gelyk in gemakstoele. Vandaar is die vrae aan die deelnemers gerig. Weerskante, op twee reuse skerms, het die gesigte van die finaliste van Empire-, Melle- en Smuts-huis gepronk. Mnr. Botha sê dat die inperking Helpmekaar Kollege vriendelik verplig het om hierdie kompetisie aanlyn aan te bied, maar dat die nuwe tegnologiese deure wat vir die Helpies oopgegaan het in die toekoms vir ‘n meer vermaaklike program sal sorg.  Hy is van mening dat daar in die toekoms definitief meer tegnologie gebruik sal word, selfs al word die kompetisie weer op die tradisionele manier aangebied.

201 kykers het op Facebook ingeskakel om te sien hoe die flinkdinkers mekaar die stryd aansê.  Leonore Viljoen (gr. 11) sê dat sy dit veral geniet het om na Jak de Priester te luister en dat die gaskunstenaar bydra tot die vermaaklikheid van die program.  Sy is ook van mening dat die aanlynformaat dit vir ‘n groter gehoor moontlik maak om die Algemenekennisvasvra by te woon.  Nikolas Germishuysen (gr. 12) was bekommerd dat die aanlynweergawe ‘n anti-klimaks vir die matrikulante gaan wees, aangesien dit nog een van die laastes is wat hulle in die inperking tegemoed gaan.  “Dit was groot pret en lekker om almal se gesigsuitdrukkings gelyk op die skerm te sien.  Net jammer ons kon mekaar nie na die tyd op die skouer klop nie.”

Deelnemers moes behoorlik kopkrap en hul senuwees het geknaag, maar die slimkoppe het hul goed van hul taak gekwyt. By die juniors het Melle uiteindelik teen Smuts geseëvier. Smuts het teen Empire met die louere weggestap by die graad 10 en -11’s. Die matrieks het vir heelwat vermaak gesorg. Nadat Empire en Smuts gelyk geëindig het in die snelvuur-afdeling, het ‘n valbylsessie gevolg waarna die telling 8 elk was. Empire het na vele kopkrap en flink dink as die wenners uit die stryd getree het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *