Filmster in ons midde

Anika de Beer

Jy gaan dalk twee keer kyk as jy die volgende keer in Helpmekaar Kollege se gange in Zonika de Vries vasloop. Ja, jy het haar op die grootskerm gesien. Zonika speel die hoofrol in die nuwe fliek Die Verhaal van Racheltjie de Beer wat tans draai. Vir Zonika (14) is ‘n filmstel soos ‘n tweede huis. Sy neem al van kleintyd af drama by die CJ Cilliers-dramaskool en is so deur bekende akteur en skrywer Jakkie Groenewald ontdek.

 

De Vries het haar eerste groot rol in 2013 losgeslaan en op die kassie verskyn in KykNET se reeks Pandjieswinkelstories. Van daar het haar liefdie vir die uitvoerende kunste bly groei. Dit is ook nie die eerste keer dat sy met bekendes soos Sandra Prinsloo skouers skuur nie. Sy het immers al in ‘n Man soos my pa (2015), 70×7: Sewentig maal sewe (2015), Dis koue kos skat (2016) en Kampterrein (2017) gespeel.

 

“Om die hoofrol in ‘n film te vertolk is iets waarvan akteurs jare lank droom,” vertel De Vries en laat blyk dat sy nie verwag het om die hoofrol van Racheltjie te kry nie. “Ek het ‘n slegte gevoel oor my eerste oudisie vir Die verhaal van Racheltjie de Beer gehad, maar toe ek vir ‘n tweede oudisie gebel word, het die realiteit van die belangrikheid van die rol by my ‘n werklikheid geword. ‘n Paar dae na die tweede oudisie het my ma ‘n oproep gekry van regisseur Matthys Boshoff wat vra of ek die rol van Racheltjie wil vertolk. Ek kon my kaanse nie glo nie. Ek was vreeslik opgewonde, maar ek het ook geweet dat daar baie werk vir my voorlê,” vertel De Vries.

 

De Vries reken dat die rol van Racheltjie de Beer tot dusvêr haar mees uitdagende rol was: “Soos enige film kom die vertolking van ‘n hoofrol met sy hoogtepunte en struikelblokke.” Toe hulle uiteindelik begin verfilm het, was die grootste uitdaging vir De Vries die laat-aand verfilming: “Een van die moeilkste tonele om te skiet, was die toneel waar ek met my vyfjarige boetie, Jamie, op my rug met ‘n lantern en kombers deur ‘n donker bos moes hardloop.”

 

Sy sê daar was baie geleenthede om verhoudings met haar mede-akteurs te bou. “Van die beste oomblikke was by die akteurs se blyplek, waar ek, Johannes Jordaan en Stian Bam gereeld geswem het en van ons tonele in die swembad geoefen het.” De Vries vertel dat sy ‘n spesiale verhouding met mede-aktrise Antoinette Louw kon opbou en dit vir haar lekker was om elke nou en dan by haar te gaan inloer.

 

Sy reken dat dit nie vir haar soos ‘n werk voel wanneer sy op die stel is nie en daarom sal sy eendag graag in die filmbedryf wil werk. “Ek wil graag ‘n aktrise word, maar ek wil ook ‘n dierkundige wees, want dan kan ek beide my passies op ‘n daaglikse basis uitleef.”

 

Zonika de Vries mag dalk nog net veertien wees, maar sy is reeds ‘n ervare aktrise en ons kan nie wag om te sien watter rolprente sy in die toekoms gaan aanpak nie.

Zonika de Vries vertolk die rol van Racheltjie in die nuwe film Die verhaal van Racheltjie de Beer. Foto verskaf.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *