Fietsryer trap sy pad oop na goud

Nina Germishuysen

 

Kyle Swanepoel (gr.12) tydens die African Continental Cycling-kampioenskap. Foto verskaf.

Kyle Swanepoel (gr.12), het onlangs teruggekeer van Egipte waar hy Suid-Afrika by die African Continental Cycling Championship verteenwoordig het. Kyle, wat sy pad oopgebaan het na ‘n verstommende sewe medaljes, het met Helpieflitse gesels oor die lewe van ‘n fietsrykampioen.

Jy het reeds groot sukses behaal as ‘n jong fietsryer. Wat sou jy sê was die hoogtepunte in jou loopbaan sover?

Een van my grootste prestasies was om in 2019 aan die wêreldkampioenskappe in Duitsland deel te neem. Daar het ek ‘n Suid-Afrikaanse rekord verbeter. Maar ek sou sê my hoogtepunt tot dusver was om ‘n Afrika-kampioen te word en om ‘n tweede plek te beklee vir die “track points race” op die wêreld UCI-ranglys.

 

Dit klink asof fietsry beslis baie toewyding verg. Hoe lyk ‘n tipiese dag in jou lewe?

Buiten my skoolwerk en ander verpligtinge, moet ek elke weeksdag ongeveer twee ure padwerk doen  en een uur  in die gimnasium deurbring. Oor naweke oefen ek vier ure per dag.

 

Jy is ook ’n goeie tennis- en krieketspeler. Waarom het jy besluit om slegs op fietsry te fokus?

Fietsry was nog altyd my passie, alhoewel ek alle sportsoorte geniet. Ek ry al kompeterend fiets vandat ek twaalf jaar oud is. Dit verg egter volgehoue dissipline en opoffering, goeie tydsbestuur en deursettingsvermoë. Hoe meer tyd jy insit hoe beter presteer jy. Dus is daar nie tyd vir ander sport nie.

 

Hoe rigied is jou oefenprogram en volg jy ‘n spesiale dieet?

Ek is op ‘n baie streng oefenprogram onder leiding van ‘n privaatafrigter, Nic White. My dieet is gefokus op ongeprosesseerde kos en ek sny soveel moontlik suiker, koeldrank en onnodige kitskos uit.

 

Raak jy ooit gespanne voor en tydens ‘n wedren en hoe bly jy dan gefokus?
Deelname aan internasionale wedrenne is geweldig spanningsvol, aangesien daar baie op die spel is. Ek hanteer spanning deur na musiek te luister en dit help my om te kalmeer.

Jou fiets speel natuurlik ‘n groot rol in die sukses wat jy behaal. Vertel ons bietjie meer daarvan.

Jou fiets is jou vennoot in die resies. Ek het al baie geval en ook baie fietse gebreek. Uit die aard van die saak kry mens soms tegniese probleme en dit veroorsaak groot teleurstelling. Ek het ook ‘n groot ongeluk gehad op die baan en my fiets afgeskryf. Gelukkig het ‘n ander Suid-Afrikaanse ryer my te hulp gesnel en vir my sy fiets aangebied, waarmee ek toe die “scratch race” voltooi het en ‘n brons medalje verower het. Die baanreëls laat toe dat ‘n ryer wat in ’n ongeluk betrokke is, binne ‘n sekere aantal rondes die resies mag voltooi.

 

Om met ‘n fiets te reis is seker nie grappies nie. Wat behels dit?

Ek reis altyd met twee fietse. Lugvervoer is ‘n ingewikkelde taak. Die fietse word verpak in spesiale fietsrybokse. Ek het die proses al verfyn nadat my fietsrame tydens lugvervoer gebreek het.

 

Jy het maar min tyd vir ontspanning. Wat doen jy graag as jy ‘n blaaskans kry?

Ek spandeer kwaliteittyd saam met my vriende en familie.

 

Wat is jou fietsryplanne vir die toekoms?

My droom is om vir ‘n internasionale span te ry en vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer. Ek werk doelgerig om dit te bereik.

Jy skryf hierdie jaar matriek. Wat is jou vooruitsigte vir vogende jaar?

Na matriek hoop ek om in Amerika te studeer by ‘n universiteit met ‘n internasionaal-erkende fietsryprogram.

One thought on “Fietsryer trap sy pad oop na goud

  • April 13, 2020 at 6:07 pm
    Permalink

    Die is merkwaardig ,pragtige skryfwerk.

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *