Engelse boek van die maand

Catch 22 – wat ‘n vangs!

Titel: Catch-22

Skrywer: Joseph Heller

Uitgewer: Vintage Books

ISBN: 978-0-099-52912-5

Prys: 230

Aantal bladsye: 519

Resensent: Lydia la Grange

Catch-22 se voorblad

“It was love at first sight” is die eerste sin van die satiriese oorlogsverhaal Catch-22 deur Joseph Heller. Dis reg, my liewe leser, ‘n SATIRIESE OORLOGSVERHAAL. Hoe waag iemand dit om te spot oor iets soos oorlog en dan nog die astrandheid te hê om dit met ‘n sin te begin wat in “Twilight” hoort. Dis skandelik! Onaanvaarbaar! Roep mnr. Bredenkamp! Waar’s mnr König? Hierdie skurk, ek bedoel skrywer, het duidelik geen respek vir enige literêre reëls nie…

Tog het Heller nog nooit veel respek vir enige tipe reëls gewys nie en dít is presies wat Catch-22 ‘n uitnemende boek maak. Die verhaal volg Yossarian, ‘n bombardier in Wêreldoorlog 2. Hy’s nie lus om te sterf nie, die weermag neem dit egter nie in ag nie en hou aan om die verpligte aantal opdragte te vermeerder. As hy homself daarvan probeer verskoon, bevind hy homself in ‘n “Catch-22”: As hy wil vlieg is hy mal en hoef dus nie te vlieg nie, maar as hy vra om nie te vlieg nie, moet hy verstandelik wees en dus vlieg. Eish, daai klink amper erger as Helpmekaar se skooldragreëls.

Die boek is skreeusnaaks en Heller se unieke beskrywings en skryfstyl dra daartoe by. Daar’s nie ‘n enkele alledaagse karakter in die boek nie (hierdie is die tipe ouens wat daagliks die hoof se kantoor sou besoek). Wees egter gewaarsku: Heller se skryfstyl mag dalk snaaks en uniek wees, maar dis nie netjies nie. Die storie speel nie kronologiese af nie, wat dit moeilik kan maak om te lees en Heller sal gereeld skielik van onderwerp verander.

Nou, soos enige top 10-standaard-boekverslag, kort ons net ‘n teikengroep om die boek aan af te smeer. Wel, na my mening is dit eintlik maar almal wat oud genoeg is om dit te kan lees. Dis ‘n verbysterende testament teen die status-quo, oorlog en menslike swakhede wat almal moet lees voordat hulle siel hul liggaam verlaat.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *