Elke Jan Rap en sy maat ‘n Covid-9-kenner

Nikolas Germishuysen

Met enige wêreldgebeurtenis of grootskaalse ramp begin honger wolwe sirkel met hulle samesweringsteorieë. Die Covid-19-pandemie is ‘n fees vir hierdie doemprofete. Buitensporige stories oor die oorsprong, effek en genesing van die virus, het soos ‘n veldbrand oor die internet versprei. Buiten ander gevaarlike uitlatings, is die virus glo ‘n bio-wapen en kan behandel word deur blykmiddel te gorrel.

In ander misleidende fopnuus is sekere bevolkingsgroepe imuun teen die Korona-virus. Volgens CNN.com gons dit op Twitter dat swartmense en Jemenitiese Jode ‘n natuurlike weerstand teen die siekte het.

 

Daar is ook baie vrae oor die onstaan van die infeksie. Politici is gretig om vingers te wys en modder te gooi. Iemand moet blameer word vir hierdie tragedie. En indien hierdie teorieë hulle politieke loopbaan kan bevorder, des te beter. Die Amerikaners blameer die Sjinese en Sjina beweer die kiem het sy oorsprong in Italië.

 

Verdere samesweringsteorieë sluit telke voorspellings in wat glo gemaak is oor die virus en dat hierdie waarskuwings op dowe ore geval het. Verskeie Netflix-skrywers en sekere kerkleiers is blykbaar heldersiendes. Xenofobie is ‘n hartseer byproduk van Covid-19. Geweld tussen bevolkingsgroepe is aan die toeneem, in ‘n tyd waar mense meer as ooit moet saamstaan en empatie met mekaar moet hê.

 

Volgens Africacheck.org is daar maniere om fopnuus van die ware Jakob te onderskei. Wees versigtig vir tekste waar die outeur nie genoem word nie, of nuus wat nie met bronne gesubstansieer word nie. Vals berigte speel ook op lesers se emosies en sluit dikwels skokkende en grafiese prente of video’s in.

Waaruit spruit hierdie onsin? Dit kom uit ‘n diepgesetelde vrees. Die mens se natuur soek verduidelikings vir vreesaanjaende gebeurtenisse waaroor hulle geen beheer het nie. Jan Rap en sy maat moet liefs hul opinies vir hulself hou en inligtingoordraging oorlaat aan die kenners.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *