Eet en proe na hartelus!

Kayla Swanepoel

Victoria Yards in Johannesburg is ‘n geïntegreerde stedelike kompleks en ‘n samesmelting van ontwerp, mode en kuns wat fokus op sosiale ontwikkeling en terselfdetyd dien as ‘n kommersiële onderneming

 

Op die eerste Sondag van elke maand is dit die Victoria Yards-mark waar die inwonende kunstenaars hul ateljee-deure oopmaak en vir die publiek ‘n geleentheid bied om die kunstenaars te ontmoet en hul kreatiewe proses agter die skerms te bekyk.

 

As deel van die maandelikse geleentheid is daar ook organiese produkte uit die weelderige tuine van Victoria Yards en van aangrensende stedelike plase soos die Bertrams Inner City Farm. Jy kan smul by die kosvragmotors, jou verkyk aan die lewendige vermaak en lekker kos en drankies by plekke soos die beroemde Fish and Chip Shop, die Impi Craft Brewery, die Foakes Roaster (wat uitstekende suurdeegbrood maak) en die spysenieringsmaatskappy Food I Love You geniet.

 

Daar was egter 3 voedselverkopers wat ek voel mens nie kan mis nie!

Besoek die Lemonade-stalletjie om jou dors te les. Daar is verskeie geure te kies en te keer – van gemmer, tot pynappel en selfs wartlemoen. Om jou in jou keuse te help kan jy al die verskillende geure proe voor jy besluit wat om uiteindelik te koop. Persoonlik was die suurlemoen-en-basilie-geur my gunstelling!

 

Cocina Mexicoma bied heerlike Meksikaanse kos aan. Nacho’s, Taco’s, Burrito’s en Quesadillas – elk met die keuse tussen vark, hoender of vegetaries. Die Nacho’s was heerlik en die porsies is groot genoeg om te deel vir twee mense as ‘n maaltyd of vir tot 4 mense as ‘n voorgereg terwyl jy lekker onder die koelte van ‘n tent of boom sit en musiek luister van verskillende kunstenaars wat optree.

The Frozen Foundry se stokkiesroomys is soos ‘n onploffing van vars vrugte in jou mond. Die eienaar het vertel hoe hulle slegs vars vrugte gebruik sonder enige ekstra suiker of suiwel. Heerlik om jou aftekoel op ‘n warm somersdag!

 

Daar is soveel wat die Victoria Yards-mark bied dat ek seker is almal iets sal vind om te geniet! So, wat doen jy die eerste Sondag volgende maand?

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *