Eendag as ek groot is…

Marnique Hibbert en Anja Steyn

 

Helpies in elke graad het een ding in gemeen:  hulle is besig om voor te berei vir ‘n toekomstige beroep. Daarom is dit vir elke blinkoog Helpie belangrik om te weet hoe die beroepe van die toekoms lyk en hoe hulle hulself daarvoor kan voorberei.

 

Alhoewel gevestigde beroepe soos onderwys en medies steeds gesog sal wees in die toekoms, reken me. Estie Meyer, Akademiese hoof van Helpmekaar Kollege, dat dinge binne hierdie beroepe drasties anders gedoen sal word as dertig of selfs vyf jaar gelede.

 

Andersyds reken me. Meyer dat nuwe beroepe daagliks ontwikkel soos die mense se bewuswording van hul huidige en toekomsgerigte verantwoordelikhede teenoor mekaar en die planeet ontwikkel.  “Die rol van tegnologie by nuwe beroepsloopbane is natuurlik vanselfsprekend,” sê sy.

 

Volgens USA Today, kan outomatisering tot en met 2030 tot 800 miljoen werksverliese lei. Dit sal beteken dat ongeveer 375 miljoen mense nuwe vaardighede gaan moet aanleer om toegang te verkry tot werksgeleenthede.

 

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) verklaar in die artikel, “5 Things we know about the jobs of the future,” op 24 Januarie 2020, dat tegnologiese en sosiale vaardighede van kardinale belang gaan wees in die toekomstige arbeidsmark. Die WEF plaas verder klem op kreatiwiteit om hedendaagse probleme op te los.

 

Volgens die artikel, “The 30 best high-paying jobs of the future,” gepubliseer op 20 Maart 2019 op www.businessinsider.com, sal geregistreerde verpleegsters, sagteware-ontwikkelaars en bedryfsbestuurders in die nabye toekoms die hoogste in aanvraag wees. Finansiële bestuurders, ouditeure en bestuursontleders sal ook maklik die werksomgewing kan betree.

 

Wat beteken dié inligting vir hoërskoolstudente? Bernard Marr, besigheidsadviseur, sê op www.forbes.com, dat dit nou die tyd vir jongmense is om aan hul toekoms te begin beplan: “Die meeste van ons sal binnekort ons werkplekke met kunsmatige intelligensie en robotte deel.” Marr stel voor dat jongmense op die volgende faktore fokus: kreatiwiteit, kritiese denke, beoordeling en besluitneming, leierskapsvaardighede en emosionele intelligensie.

 

Op die webtuiste solidariteit.co.za sonder joernalis, Marli Naaido, ń paar beroepe uit, waaronder weerbeheer-ingenieurs, stedelike landbou-spesialiste (dink hidroponika), digitale rehabilitasieberaders en aanlynkursusontwikkelaars. In Afrika alleen groei laasgenoemde jaarliks met 15.2%.

 

Is Helpies gereed? “Vir Helpies om in die toekoms suksesvol te wees, glo ek hulle gaan vaardighede moet hê wat hulle in staat stel om vinning aan te pas en vining te dink – hetsy kreatief, krities of analities,” sê me. Meyer. Sy reken dat Helpmekaar Kollege wel die regte grondslag lê vir die beroepslui van die toekoms. “Ek glo Helpmekaar Kollege fokus deurlopend daarop om kinders te help om die nodige vaardighede aan te leer. Omdat ons onderwysers het wat aan die voorpunt van hulle vakgebiede is en wyd lees oor ontwikkelinge, vind daar deurlopend akademiese gesprekke plaas wat ons leerders nodig het.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *