Een keer ‘n Helpie, altyd ‘n Helpie!

Aldoné Kok

Om te sê jy is ´n Helpie, is baie meer as net die skool waar jy skoolgaan of die skool wat jy op sport- en kulturele vlak verteenwoordig. Om ´n Helpie te wees, verander hoe jy dink en doen, die Helpie-way is jou pad na ´n suksesvolle toekoms. Helpmekaar is meer as net ´n gebou of ´n skool, dis ONS plek. Aldoné Kok gesels met die 2012-matrikulant Rezanne Neethling. Dié oud-Helpie deel haar raad en hoërskoolervaring.

Rezanne Neethling tydens haar gradeplegtigheid. Rezanne was in 2012 in matriek. (Foto: Verskaf)

Wat is jou gunsteling-herinnering van Helpmekaar Kollege?

Dit is voorwaar bitter moeilik om ‘n enkele herinnering uit te sonder, maar ek dink saalopeninge op ‘n Maandagoggend bly my steeds by as ‘n baie kosbare geleentheid. Ek moet erken, ek het dit dalk nie op die oomblik soveel gekoester soos nou nie, maar in retrospek was die samesyn, saamsing, afkondigings en gedagtes en wyshede wat deur die onderwysers en meneer König gedeel is, vir my baie spesiaal. Ek is iemand wat hou van tradisies en instellings, en saalopening het vir my die regte ingesteldheid gekweek vir die week wat voorlê.

Hoe het die lewe vir jou verander ná skool?

Ek dink die grootste uitdaging náskool was om ‘n mens se eie roetine te skep.  Ek is nogal iemand wat hou van struktuur en roetine en ek het so lekker ritme gehad op skool– busry, aantree, klasdraf, huiswerk, sport- en kultuuraktiwiteite en daarna weer verder woeker met huiswerk en take. Universiteit en die werklewe bring hul eie uitdagings en ek moes net weer daardie “ritme”vind. Verder kan ek met oortuiging sêdat ek die lewe aanpak presies soos ek elke dag as ‘n Helpie benader het –die lewe bring dalk nuwe dinge en plekke, maar my benadering is geskoei op die beginsels wat ek as Helpie aangeleer en ingeoefen het.

As jy vir een dag hoof kon wees, watter reël sou jy verander het?

Hierdie is vir my ‘n moeilike vraag, want ek het nooit gevoel Helpmekaar het “reëls” nie. Die “reëls” was eerder vir my ‘n manier van doen en‘n ingesteldheid. Daarom kan ek nie regtig‘n spesifieke “reël” noem wat ek sou wou verander nie. Ek hoop eerder dat elke huidige en toekomstige Helpie dieselfde gevoel sal ervaar dat ons nie reëls nodig het om reg op te tree nie– om reg op te tree, is net hoe ons is; die reël is eintlik oorbodig.

Jy het in 2019 ´n motiveringspraatjie aan die nuwe Welpies gelewer, wat is jou toekomsraad vir die Helpies van 2020?

My toekomsraad sou wees om nie jou hoërskoolloopbaan te onderskat nie. ‘n Mens pak dikwels jou skoolloopbaan in die boksie van iets administratief wat ‘n mens net agter die rug moet kry sodat die lewe nou kan begin. Vir my was my skoolloopbaan die kosbaarste tyd van my lewe.  Ek het nog nooit weer‘n omgewing beleef waar almal om my – onderwysers, vriende, ouers– sóingestel was op my ontwikkeling en groei nie. Gryp elke taak, toets, toespraak, sportwedstryd en kultuuraktiwiteit aan om te bou aan die JY wat die wêreld daarbuite trompop tegemoet gaan loop.

Jy het in 2012 die Erewapen ontvang, kan jy nog die nostalgie van die oomblik onthou?

Baie beslis– dit was vir my ‘n ongelooflike emosionele oomblik. Die erewapentoekennings is by die matriekgraduering oorhandig, en ek was oorweldig om die mooi woorde te hoor wat oor my gesêis (ek was eintlik al vroegoggend tranerig, want ek het nie geweet hoe ek daardie dag die skool gaan groet nie). Helpmekaar was en is so ‘n integrale deel van my bestaan– die erewapen was die perfekte simbool van ‘n onvergeetlike journey. Dit was ‘n voorreg om te hoor hoe baie my manier van doen vir ander beteken het.

Wat hou die toekoms vir jou in?

Ek het pas gekwalifiseer as ‘n CA(SA) en werk tans by KPMG. Ek beoog ook om oor die volgende twee jaar my meestersgraad in Rekeningkunde te voltooi. Ek het my liefde vir Rekeningkunde by Helpies ontdek en ek beplan om vir die afsienbare toekoms by KPMG te werk as ‘n spesialis in die Rekeningkunde- tegniese afdeling.

Hoe het Helpmekaar Kollege bygedra tot jou huidige sukses?

Die Helpie-way het my gehelp om myself te onderskei in die werkplek. Ek het gevind dat die benadering en modus operandivan ‘n Helpie verfrissend is in die wêreld daarbuite. Dit begin by klein tradisies soos om ‘n pet te lig as jy iemand groet of om op te staan as jy met iemand praat. Dit het my in staat gestel om te lei deur wie ek is en nie net deur wat ek sê nie.

Is daar iets waaroor jy spyt is jy nooit gedoen het nie?

Ek is nie spyt dat ek iets níégedoen het nie, ek is eerder spyt dat ek dit nie meer gereeld gedoen het nie. Ek is byvoorbeeld spyt dat ek nie meer gereeld net bietjie deur die geboue gestap het, langs die swembad gesit het en sommer net die atmosfeer van die skool ingeneem het nie. ‘n Mens raak so besig, jy aanvaar jou omgewing as vanselfsprekend. Vandag mis ek die sien, voel en ervaar van Helpmekaar die meeste. 

As jy nou in persoon vir mnr. König iets moes sê, wat sou dit wees?

‘n Groot dankie– vir die leier wat hy was en steeds vir die Helpies is. Meneer se visie, toewyding, werketiek en passie verpersoonlik alles wat ‘n leier behoort te wees – dit is aansteeklik en ek het die beste mentor gehad om in my eie leierskapskoene in te groei.

Wat is die grootse lewensles wat jy al geleer het?

Moenie dat enige iemand jou gees demp nie –doen wat jy doen met oortuiging.

Wie of wat inspireer jou? 

My ouers was nog altyd my grootste bron van inspirasie. Hulle is my grootste“fans” en hulle vreeslose benadering tot die lewe het my aangespoor om myself uit te daag. Wanneer ek twyfel oor iets, is hulle reeds oortuig van my sukses– sulke ondersteuning en geloof is van onskatbare waarde.

Wat het jou gemotiveer om hard te werk op skool?

Ek is bevoorreg dat ek van kleins af baie lief is vir leer en skoolwerk doen. My motivering was nog altyd die persoonlike mylpale wat ek aan myself gestel het. Ek het ‘n sekere visie gehad van waar ek wou uitkom, en elke huiswerkopdrag, taak en toets was ‘n stukkie van daardie legkaart wat ek in my geestesoog gehad het.

Wat is jou motto vir 2020?

My motto vir 2020 dra ek al eintlik lank in my binnesak rond: “Hoe meer jy het om te doen, hoe meer kry jy gedoen.” Natuurlik moet ‘n mens dinge oordeelkundig aanpak, maar ek het nog altyd gevoel dat‘n besige program my dwing om beter te beplan. En dan het jy skielik tyd wat jy nooit eers besef het is daar nie…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *