Drome vertel meer as net ’n storie

Foto: iStockphoto.com 

Megan Saaiman

Michael Grandner, direkteur van die Universiteit van Arizona se Slaap-en-Gesondheid-departement, skryf op die webtuiste www.insider.com dat die rede vir snaakse drome deur twee faktore beïnvloed word. “Die eerste faktor is dat ons brein verantwoordelik is om te leer, ons gevoelens te verwerk en die ophou van onthouvermoë te reguleer. Die ander faktor is die verandering in mense se daaglikse skedule.” Moenie verbaas wees as jy die afgelope tyd die mees bisarre drome gedroom het nie.

Talje van Niekerk (graad 10) – Foto: Verskaf.

“Baie aande droom ek meer as een droom wat onrealisties is en niks met mekaar te doen het nie. Ek is in een gedeelte in ’n klas en daarna dans ek by ’n partytjie. Ek dink dit het iets te doen met my vrese of onsekerhede,” vertel Kara Volschenk (gr. 12).  Ook Talje van Niekerk (gr. 10) se drome lyk anders tydens die inperkingstyd. “Ek droom die afgelope tyd baie meer oor mense en veral spesifieke mense.” Bianca Landman (gr. 10) sê weer: “My drome was baie deurmekaar en ek het somtyds dieselfde droom oor en oor gedroom.”

Bianca Landman (graad 10) – Foto: Verskaf.

Die afgelope tyd is almal se skedules, tye en daaglikse roetines omvergegooi, en dit in ’n baie kort tydperk. Drome is ’n manier om sin te maak van dit wat gebeur en omdat daar baie inligting op een slag deurgegee word, is ons drome anders.

Tydens die Covid-19-pandemie is dit maklik om alleen en afgesonder te voel. Net so is dit moontlik om te voel dat dit net jy is wat interessante drome beleef, maar gelukkig kan sosiale media jou gerusstel. Op platforms soos Twitter en Facebooktrend#pandemiedrome wat die geleenthede skep om drome met ander te deel en dit te beskryf. So kan jy in kontak bly met mense, sien dat jy nie die enigste persoon is wat onstellende of onrealistiese drome droom nie en jy kan selfs met ’n slaapkundige oor jou drome praat.

Onsekere tye plaas druk en op mense en veroorsaak spanning wat, volgens Jennifer Hoskins-Tomko, eienaar van Clarity Health Solutions in Jupiter, ons drome beïnvloed. Sy sê stres het ’n direkte invloed op die manier hoe ons droom, asook waaroor ons droom.

Daar is geen rede om bekommer te wees oor jou drome nie, maar daar is ’n paar maniere om jou drome te beïnvloed voor jy gaan slaap. Tara Youngblood, uitvoerende hoof en Hoofwetenskaplike by Chili se Universiteit van Tegnologie, sê dat om positief te gaan slaap, rustiger drome teweeg bring.

Daar is verskeie maniere om rustig te gaan slaap, solank dit vir jou werk.

Ewan Krynouw (gr. 10) verduidelik: “Voor ek gaan slaap, moet ek koffie drink. Dit is eintlik veronderstel om ’n mens wakker te hou, maar vir my vorm dit deel van my roetine en daarom maak dit my rustig.”

Ewan Krynouw (graad 10) – Foto: Verskaf.

Gebruik hierdie geleentheid om wonderlike stories bymekaar te maak om te vertel wanneer alles weer “normaal” raak. Onthou dat ’n droom eintlik ’n wens is wat jou hart maak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *